Ons neem met kommer kennis van die ANC se versterkte aanslag die strategie van die Nasionaal Demokratiese Rewolusie, soos bevestig by die laaste konferensie, te probeer vestig. Dit is nie meer ‘n geheim dat daar spanning binne die ANC is nie en dit blyk dat individue nou veg vir hulle eie oorlewing.
Mnr. Ramaphosa poog ekstra hard om beslag te gee aan die konferensie besluite – met die oogmerk baie duidelik om homself in die stemvee se goeie boekies te hou.
Die optrede en standpunte beklemtoon duidelik die grondslag van hul denke naamlik; om ‘n sentraal-gereguleerde en -beheerde stelsel te implementeer. Die indruk word geskep dat welvaart iets is wat sommer net bestaan en dat dit ook net gedeel moet word. Hierdie soort denke het wêreldwyd nog net grootskaalse armoede en werkloosheid geskep.
Die onmiddellike reaksie is natuurlik om te vra wat ons daaraan kan doen.
Die belangrikste is dat ons moet vashou aan ons geloof en bid vir wysheid. ‘n Kragtiger wapen het ons nie. Daarmee saam moet ons voluit boer en onsself onmisbaar maak deur die voedsel wat ons produseer.
Dit lê ook op die weg van elke boer om hul arbeiders te oriënteer oor waarmee die ANC besig is en dat hulle saam met Cosatu en die SAKP inderdaad elke persoon – en veral hulle as arbeiders – se toekoms van hulle ontneem. Verduidelik vir hulle prakties hoe word welvaart geskep en dat ‘n kultuur van verdeling van welvaart en ook ‘opeis’ van middele, baie vinnig gaan veroorsaak dat die middele gaan opraak. Wanneer iemand nie welvaart skep nie, sal dit vinnig opdroog.
Ons sien toenemend video’s op sosiale media waar selfs swart mense praat en die gevaar van die ANC uitwys. Ons moet help om dit te versprei.
In dit alles moet ons ons positiwiteit behou, want daarmee sal ons met die wysheid van Bo wel op die regte tyd die regte planne kan maak.