TLU SA se hoop op behoorlike beplanning en ‘n herstrukturering van die bestaande kruppelende ekonomiese beleidsomgewing blyk verniet te wees. Die mediumtermyn-begrotingsrede het weereens klem geplaas op die grootste probleme in Suid-Afrika en slegs beperkte groei uit ‘n handjievol sektore vir die eerste ses maande van die jaar getoon.
Jarelange wanaanweding van Suid-Afrika se fondse en aanhoudende korrupsie, tesame met die beperkte bestuur en beheer van uitgawes in staatsinstellings is steeds ‘n groot probleem. Die korrekte en verantwoordelike aanwending van fondse behoort nie meer deel van die debat te wees nie en TLU SA sien uit na die president se verdere aankondiging rakende ‘n plan vir die hantering daarvan.
Dit is kommerwekkend dat die staat se uitgawes al vir 15 jaar, sedert die finansiële krisis van 2008, jaarliks inkomste oorskry het. Staatskuld het buite beheer geraak en TLU SA is nie oortuig dat sprake van toekenning na bedrywe soos gesondheid, onderwys en veiligheid die probleem gaan aanspreek nie. “Daar is jaarliks ’n gaping tussen aankondigings en die realiteit van uitvoering. Solank die regering volhard op sy pad van kaderontplooiing en SEB en nie kundigheid alleen as kriteria sal toepas in die aanstelling van poste nie, is die begroting nie noodwendig tot voordeel van Suid-Afrika se mense nie,” sê mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder.
“Die begrotingsrede behoort positiewe rigting te gee aan hoe beskikbare fondse tot voordeel van die land en sy mense aangewend word. Die staat se verantwoordelikheid teenoor die land se inwoners is eerstens ‘n veilige omgewing en tweedens ‘n positiewe beleidsomgewing waar ekonomiese groei ‘n bepalende faktor vir besluitneming is,” sê van Zyl.
Ekonomiese groei is die enigste volhoubare oplossing vir ons land se krisis en nie die verdere leen van geld wat teen hoë rentekoerse terugbetaal moet word met fondse wat nie daar is nie.
Elke probleem wat ons land ervaar kan teruggeneem word na die negatiewe beleidsomgewing waarbinne bedrywe moet funksioneer. TLU SA glo dat daar baie dringend na die negatiewe gevolge van kaderontplooiing, transformasie, swart ekonomiese bemagtiging, onteiening sonder vergoeding en ander kruppelende beleide gekyk word, aangesien hierdie beleide ’n enorme bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomie en ’n groot afskrikmiddel vir potensiële beleggers is.
Die landboubedryf het in die termyn met 7,8 persent gegroei wat weereens bewys hoe belangrik ‘n gesonde, produserende kommersiële landbou omgewing vir die ekonomie is. Daar was nie verdere sprake van verandering of toegewings aan die kommersiële landbou nie.
“Die minister het inderdaad net weer die reeds stukkende meubels, herrangskik op die sinkende skip. Suid-Afrika is op koers om oor ‘n fiskale afgrond te stort en daar word volhard met die benadering wat ons tot hier gebring het,” sê van Zyl.
Foto Sincerely Media on Unsplash