Die beskikbaarheid en ook bekostigbaarheid van diesel en elektrisiteit is van kardinale belang vir die landbou. Daarsonder is produksie vir veral saai- en besproeiingsboerdery nie moontlik nie. Tans is die prys van diesel ’n groot kopseer, maar die oorlog in Oekraine en die feit dat byna al die plaaslike raffineringsaanlegte gesluit het maak die beskikbaarheid daarvan ook riskant.
Daarom het TLU SA op 3 Augustus ’n inligtingsessie oor biodiesel en ander alternatiewe aangebied. Ons is in die bevoorregte posisie om steeds die kundigheid in die land te hê om biodiesel wat aan alle internasionale standaarde voldoen te kan vervaardig. Mnr. Frans Hugo, wat in die laat 1970’s by die navorsing en prosesontwikkeling deur die LNR se landbouingenieurswese afdeling betrokke was, het ons toegespreek. Die agtergrond, en veral die slaggate in die produksie proses is deeglik behandel. Die skade aan enjins deur swak kwaliteit biodiesel kan nie oorbeklemtoon word nie. Skade aan dieselpompe en inspuiters asook die opkoping van silinderkoppe is ’n probleem, maar ook die verdikking van die smeerolie wat vasbranding veroorsaak.
Die LNR het egter biodiesel vervaardig wat deur Perkins aanvaar is as selfs beter as diesel uit ru-olie. Daar is ook na die wetlike vereistes gekyk. Biodiesel kan moontlik uit enige plantaardige olie vervaardig word, maar tans maak net olie uit sojabone ekonomies sin. Uit voorlopige berekeninge, wat konserwatief en omvattend gedoen is, blyk dit dat biodiesel wel ekonomies sin kan maak. Daar is ook ’n beduidende besparing moontlik teen die huidige diesel prys. Die aanlegkoste is egter redelik hoog en dus sal samewerking tussen boere baie sin maak.
’n Ander moontlikheid is die proses van pirolise. Die behels die vervaardiging van diesel uit herwinde plastiek. Byna alle plastiek kan gebruik word en slegs Polistireen en PVC moet vermy word. Ons sit wêreldwyd met ’n geweldige plastiek rommel probleem wat die pirolise proses aantreklik maak. Die aanbieding deur mnr. Russel Schwartz en Noel Guy was insiggewend en baie interessant. Volgens hulle kan diesel teen ongeveer R7.00 per liter produseer word. Dit sluit die afbetaling van die aanleg in. Hulle sal ook kan help met die finansiering van so ’n projek. Dit moet egter beklemtoon word dat, vir beide die biodiesel en diesel uit pirolise, die proses beheer en kwaliteitsversekering deur laboratoriumtoetse van uiterste belang is. Hierdie koste is ingereken by die voorleggings.
Laastens het mnr. Jan Esterhuysen ’n oorsig gegee oor die moontlike oplossings om die probleem met die stoor of opberging van elektrisiteit te oorkom. Tans is die koste en lewensduur van batterye die grootste struikelblok in die lewensvatbaarheid van elektrisiteit uit sonpanele. ’n Nuwe innoverende oplossing kan wees om met die elektrisiteit wat vir die laai van batterye gebruik sou word, aan te wend om water te dissosieer na waterstof en suurstof. Die waterstof kan dan aangewend word vir die opwekking van elektrisiteit. Waterstof is egter uiters plofbaar en om dit veiliger te maak kan dit met stikstof uit die lug verbind word om ammoniak te vervaardig. (lug bestaan uit 79% stikstof en 21% suurstof). Die ammoniak is baie veiliger om te berg en daar word reeds enjins aangedryf met ammoniak. Dit kan dan generators aandryf wanneer die son nie skyn nie. Die ammoniak kan ook gebruik word om relatief maklik kunsmis soos KAN te vervaardig. Hierdie nuwe denkrigting is opwindend en bied nuwe moontlikhede. Kommersiële aanlegte is egter nog nie tans beskikbaar nie.
Gemeet aan die vrae en belangstelling deur diegene wat die sessie bygewoon het, kan dit as ’n sukses beskou word. Die vervaardiging van biodiesel vir eie gebruik is ’n ekonomiese en strategiese oorweging wat by elke individu berus. Tans is dit moontlik vir elke entiteit om 300 000 l biodiesel per jaar vir eie gebruik te vervaardig sonder enige belasting of lisensiërings implikasies. Die lesings of voorleggings en kontakbesonderhede van die sprekers is by TLU SA beskikbaar.
Foto: Tyler Lastovich | Unsplash