Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
Boer jy vir wins of boer jy vir opbrengs? Woensdag | 24 Februarie | 2021

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA

Natuurlik is dit heerlik as die pitte in die stroperbak val en die tonnemaat nuwe rekordvlakke bereik. Die vraag is egter: Wat het dit gekos om by dié punt uit te kom?

Die sukses van landbou word aan ’n ekonomiese resultaat gemeet. Dit is daardie onderste reël van die balansstaat wat bepaal of jy weer volgende seisoen ’n kans gegun sal word. Om ’n volhoubare boerdery te bedryf, moet jy dus ’n wins maak.

Dit is egter belangrik om te besef dat daar ’n proses moet plaasvind om by daardie onderste reël uit te kom, en dat ’n verskeidenheid van kundige keuses ’n invloed op jou sukses kan hê. Ons praat altyd van daardie eienskappe wat ’n boer moet hê om enigsins suksesvol te kan wees. Die belangrikste van hierdie eienskappe is sy/haar ingesteldheid: Beskik hy oor daardie noodsaaklike sin vir dringendheid; aanvaar hy verantwoordelikheid vir alles wat op die plaas aangaan; het hy ’n honger na kennis om te verseker dat die beste en jongste navorsing en inligting bekom word sodat dit tersaaklik toegepas kan word; en is hy hardwerkend?

Benewens die boer se ingesteldheid, is dit ook belangrik dat hy ’n spesialis is in die kommoditeit waarmee geboer word, en dat hy kennis het van werktuigkunde, elektriese toestelle, loodgietery, pas en draai, sweiswerk, omheinings, arbeidskwessies en dies meer.

Dan is daar ook verskeie eksterne faktore wat deurentyd ’n invloed op die boerdery kan hê, waaronder dinge wat buite die beheer van die boer is. Die veiligheidstoestande in ons land en veral op plase is van kritieke belang, en dit verg deurlopend insette en beplanning van die boer om dit die hoof te bied. Hier gaan dit nie net oor plaasaanvalle nie, maar ook oor diefstal van produkte, infrastruktuur, insetmiddele en gereedskap. Landboufinansiering het ’n enorme knou gekry weens die wyse waarop die Landbank in die grond in bestuur is. Dit is die gevolge van die regeringsbeleid waar mense op grond van ras pleks van kundigheid in belangrike poste aangestel word. Die vooruitsig van onteiening sonder vergoeding is gewis ook nie stimulerend vir enige belegger nie. Voeg daarby uiters ongunstige arbeidsomstandighede wat deur wetgewing op die boere afgedwing word en die pakkie raak haas te veel vir enige boer. En les bes, uitsterste klimaatsomstandighede raak boerdery nadelig. Nietemin is die boere steeds daar en presteer buitengewoon in ons land wat vergeleke met ander lande as ’n marginale landbouland beskou word.

Dit bring ons terug na die vraag: Boer ons vir wins of vir opbrengs? ’n Opbrengs is uiteraard noodsaaklik, maar die vraag wat daarmee saam gevra moet word, is teen watter prys? Tonnemaat kan byvoorbeeld nagejaag word met mielieverbouing en bemesting kan daarvoor ingespan word. Maar iewers is daar ’n gelykbreekpunt waar die koste van bemesting nie opweeg met die verskil tussen insetkoste en opbrengs nie. Wins is, om dit eenvoudig te stel, die verskil tussen die koste van produksie en die opbrengs wat te gelde gemaak is. Indien daar nie wins is nie, sal enige onderneming ondergaan. Dit is natuurlik ook iets wat boere moet oorweeg wanneer hulle met meer as een kommoditeit boer. Dit kan so maklik gebeur dat een kommoditeit deur middel van kruissubsidiëring ’n moontlik niewinsgewende kommoditeit in die groter geheel dra. Elke kommoditeit se winsgewendheid moet in eie reg bereken word.

Dit is noodsaaklik om deurentyd die winsgewendheid van elke plaas te evalueer – as jy ’n wins maak, kry jy volgende jaar weer ’n kans. Dit is belangrik om in beter jare vir swakker jare te beplan en voorsiening te maak indien die omstandighede knyp. Beplanning vir volhoubaarheid begin by winsgewendheid.