Ons Manifes
Ons gaan in die volgende aantal Pitkos-uitgawes ons Manifes in oënskou neem. Met elke Pitkos gaan ons twee van die klousules bespreek.
Klousule #1
“Ek bevestig Artikel 2 van TLU SA se Grondwet waarvolgens ek onderneem om my lewe te lei in ooreenstemming met die Bybel as die enigste Woord van God Drie-enig en ’n maatstaf van my Christelike geloof.”
Ons leef vandag in ’n wêreld waar dit soms baie moeilik is om dié klousule van ons Manifes in die praktyk te sien realiseer. Mense se optrede wys dat Christus nie noodwendig die middelpunt van ons keusemaking is nie. Het die mens homself nie in die middelpunt geplaas nie?
God openbaar Homself in Sy Woord en dit is waar ons leer hoe om werklik tot eer van God te lewe. Ons gebruik so graag die Bybel net wanneer dit ons pas. Ons skeur daagliks inderdaad by wyse van spreke bladsye uit die Bybel, want ons pas nie toe dit wat ons daar leer nie. Die mens is inderdaad sondig, maar Jesus Christus het vir ons aan die kruis gesterf en sodoende ons elkeen se sonde afgewas. Deur ons sonde te bely plaas ons daardie uitgeskeurde bladsye terug.
Laat ons elkeen, maar ook as organisasie, dit nastreef om die regte maatstaf vir ons keusemaking te gebruik deur elke dag met ’n vol Bybel die uitdagings aan te vat.
Klousule #2
“Ek is bewus van die waarde en invloed wat die Christelike leer op die vorming van my kulturele erfenis het.”
Kultuur is ’n lewendige proses en is ons elkeen daagliks as kultuurdraer besig om kultuur te skep. Kultuur is immers die somtotaal van alle menslike handelinge.
Die Christelike leer met die waardes en riglyne vanuit die Bybel is wat positiewe skeppende kultuur vestig. Daarteenoor kan ons ook ’n dwaal-kultuur – naamlik dit wat in stryd is met God se verordeninge – skep. Ons moet leer uit die verlede, vanuit die erfenis wat vir ons nagelaat is. Om die mooi daarvan te neem en daarop die toekoms te bou.
Dit plaas ’n groot verantwoordelikheid op ons om daagliks in ons handel en wandel ’n erfenis vir ons nageslag te skep. Die Afrikaner het gewis ’n skeppende kultuur gebaseer op ’n vaste geloofsbegronding waar integriteit die grondslag is en waar gesonde arbeid deel is van wie ons is.
Watter erfenis laat ons na vir die volgende geslagte?