Finansiële instellings
Die laaste tyd was daar heelwat bespreking in die openbare omgewing oor finansiële instellings en veral oor Land Bank. Met ongeveer R200 miljard se landbouskuld wat deur hierdie instellings gediens word, is dit in niemand se belang indien die brug tussen hierdie instellings en die boere (hul kliënte) vernietig word nie. Uiteraard is dit nodig om wel, indien daar probleme is, dit aan te spreek en oplossings te vind in belang van volhoubare voedselproduksie.
TLU SA het op hoë vlak met Land Bank samesprekings gevoer wat as baie konstruktief ervaar is. Vir die meeste van die punte wat ons aangespreek het, was daar bevredigende antwoorde en die sake wat verder uitgeklaar moet word, is die proses daaroor aan die gang.
Die een saak wat onder andere steeds hanteer moet word, is die voorlê van bewyse waar daar wel van boelie-tegnieke of onregmatige praktyke gebruik gemaak is deur die invorderaars. Indien daar enige lid is wat ons van sodanige bewyse kan voorsien, sal dit baie waardeer word.
Boere wat probleme ervaar om hul verpligtinge na te kom moet ons kontak, aangesien Land Bank verskeie opsies beskikbaar het wat benut kan word om na moontlike uitkomste te streef.
TLU SA wil dit duidelik stel dat ons ’n Land Bank wat korrek funksioneer, wat die eiesoortigheid van landbou verstaan en saam met sy veranderlikes die nodige ondersteuning met finansies kan gee, wel benodig. Dit is die beste om te werk na ’n positiewe uitkoms om seker te maak landbou lewe.
Dis belangrik om betyds die nodige hulp te kry indien daar enige probleme ten opsigte van die nakoming van verpligtinge teenoor finansiële instellings. Dit kan nie genoeg beklemtoon word nie. TLU SA het hande gevat met ’n span kundige persone wat die nodige bystand kan verleen om die korrekte voorlegging aan die finansiële instelling te maak ten einde te verseker dat die beste kans vir ’n uitkoms bereik kan word. Krities hiermee is dat daar betyds opgetree moet word. In die praktyk word ervaar dat daar gewoonlik te lank gewag word alvorens daar realistiese planne gemaak word en dan raak uitkomste later onmoontlik.