Die inperking beklemtoon opnuut ons waardes en beginsels.
Die fondament waarop TLU SA bou, is deur baie jare gevorm en gegiet deur boere wat daagliks in die smeltkroes van voedselproduksie staan. Ek noem dit spesifiek ‘n smeltkroes, want in Suid-Afrika is dinge nie normaal wanneer dit by die produksie van kos kom nie. Die uiteenlopende aspekte wat alles op die boer se tafel land en waaruit daar sin gemaak moet word, is omtrent ‘n smeltkroes van ordening alvorens dinge in dié dae sin maak.
Ons word inderdaad gelouter en dis slegs die boere wat gaan vasbyt, wat gesuiwer tot ‘n edel vorm, aan die ander kant sal uitkom.
Dit bly hartseer dat die regering (ANC) steeds sterker fokus op die ideologie as wat dit fokus op die ekonomie. Dit blyk hulle sukkel daar moet iewers geskep (geproduseer) word, om iets te hê om te verbruik. Welvaart is nie ‘n gegewe nie. Daar moet sinvol en markgerig gewerk word om winsgewend te wees. Die entrepreneur se uitdaging is om die vraag na middele wat verbruikers benodig, teen ‘n wins te lewer.
Boere moet in die dae opnuut aan hulle begronding vashou. Dit het dalk nou nodig geword om slimmer te boer en nie noodwendig harder nie.
Die situasie (inperking) rondom COVID-19 het Suid-Afrika finansieel baie seergemaak. Die kollektiewe kapasiteit van die inwoners het ‘n groot terugslag gekry. Dit kan meebring dat ons markomgewing heel moontlik anders daar gaan uitsien. Verbruikers mag groter gesondheidseise aan produkte stel en daarom sal naspeurbaarheid al hoe belangriker raak.
Hierdie omstandighede skep verskeie geleenthede wat deur vindingryke entrepreneurs benut kan word.
Dit gaan al meer belangrik raak dat ons na optimale produksie moet streef. Die ekonomie van skaal gaan toenemend meer belangrik raak, ten einde voldoende eie binnevet te kan inbou om rampe en skeefloop-scenarios te hanteer.
Die gedagte wat reeds vir etlike jare deur TLU SA as ‘n moontlikheid voorgehou word naamlik sindikasie, is iets wat ten minste ondersoek moet word. Die voordele om saam te span en groter kapasiteit te skep, weeg baie beter op as om in marginale ekonomie-van- skaal-omstandighede voort te worstel.
Kom gesels gerus oor die moontlikhede en skep ‘n toekoms met ‘n sterker inherente vermoë.
Groete,
Bennie van Zyl