James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Die krag van kos en die verantwoordelikheid van vandag

Daar is min dinge so alledaags soos ’n bord kos op ’n tafel. Tog is daar min dinge so kosbaar. Die voorreg om voedsel te hê moet nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. In Suid-Afrika, maar ook wêreldwyd, leef miljoene mense met voedselonsekerheid as ’n daaglikse werklikheid. Volgens die Food and Agriculture Organisation bly toegang tot bekostigbare, voedsame kos ’n groeiende uitdaging in baie lande. Teen hierdie agtergrond besef ’n mens net weer: Kos het ’n prys, maar kos het ook ’n oorsprong.

Aan die een kant moet voedsel bekostigbaar wees. ’n Verbruiker moet in die posisie wees om kos te kan koop. Stygende insetkoste, brandstofpryse, elektrisiteitsuitdagings en logistieke knelpunte plaas druk op die hele waardeketting, van produsent tot verbruiker. Wanneer die ekonomie knak, knak die kombuistafel, en die boer se mark verskraal. Aan die ander kant moet voedsel beskikbaar wees. Dit beteken iemand moet dit produseer. Iemand moet plant, natlei, oes, verwerk en vervoer. Voedsel groei nie op winkelrakke nie. Dit begin in die grond, in sweet en in geloof. Die boer se risiko word die verbruiker se sekuriteit. Sonder produksie is daar geen geleentheid dat die markkragte hul rol kan speel in die vasstelling van pryse nie – daar is bloot leegheid.

Maar daar is nóg ’n kant van die saak wat ons minder gereeld oorweeg: Wat doen ons met die krag wat ons uit voedsel ontvang? Kos is nie net brandstof vir die liggaam nie; dit is energie om ons roeping uit te leef. As Christene glo ons dat ons eerste verantwoordelikheid is om tot eer van God te leef. Elke maaltyd is genade. Elke dag se brood is onverdiend. Dankbaarheid behoort dus nie ’n nagedagte te wees nie, maar ’n lewenshouding.

Ons leef elkeen ons beroep uit in ’n spesifieke tyd. Niemand van ons is per ongeluk hier Die krag van kos en die verantwoordelikheid van vandag nie. Of jy boer, onderrig gee, sake doen, beleid maak of huis hou, jy is geroep vir nóú. Dit bring ’n verantwoordelikheid. Nie net teenoor onsself nie, maar teenoor die nageslag.

Die uitdrukking “arbeid adel” dra ’n tydlose waarheid. Werk skep waardigheid. Werk bou gemeenskappe. Werk vorm karakter. In ’n tyd waar emosie dikwels harder praat as rede en waar menings makliker gedeel word as oplossings, moet ons onsself afvra: Bou ons? Of blaas ons net warm lug die wêreld in?

’n Beter toekoms word nie geskep deur ’n beter verlede te probeer herskep nie. Nostalgie plant nie mielies nie. Dit oes ook nie oplossings nie. Wat wel ’n verskil maak, is doelgerigte, uitkomsgedrewe insette. Inderdaad fokus op ’n ingesteltheid om te streef na ’n beter dag van môre inaggenome lesse geleer uit die verlede. Dit begin by ’n paar kernfokuspunte:

Eerstens: Kundigheid en uitnemendheid.
In enige beroep bly bekwaamheid die onderskeid tussen sukses en mislukking. In landbou, maar ook in ander sektore beteken dit beter tegnologie, beter bestuurspraktyke en volhoubare hulpbronbestuur. Verder ook voortdurende leer, aanpasbaarheid en innovasie. Ons kan nie op gister se kennis oorleef in môre se wêreld nie.

Tweedens: Verantwoordbaarheid.
Elke besluit wat ons neem, op die plaas, in die raadsaal of in die huishouding, het ’n impak. Finansiële dissipline, etiese optrede en langtermyndenke is nie luukshede nie; dit is noodsaaklikhede. Die nageslag gaan die rekening betaal vir wat ons vandag reg of verkeerd doen.

Derdens: Samewerking.
Die waardeketting van boer tot bord vereis vertroue en vennootskap. Produsent, verwerker, handelaar en verbruiker is nie opponente nie, maar rolspelers in dieselfde ekosisteem. Wanneer wantroue die botoon voer, verloor almal. Wanneer respek en begrip groei, word stabiliteit gebou. Dit verg integriteit as grondslag van wat ons doen.

Vierdens: Dankbaarheid wat oorgaan in diensbaarheid.

Om dankbaar te wees vir kos op jou tafel, moet lei tot ’n ingesteldheid om by te dra. Dit kan beteken om werksgeleenthede te skep, om jongmense op te lei, om gemeenskapsprojekte te ondersteunof bloot om jou werk met integriteit te doen. Dankbaarheid sonder aksie bly sentimenteel; dankbaarheid met aksie verander werklikhede.

Die krag wat ons uit voedsel ontvang, stel ons in staat om te werk, te dink, te skep en te dien. Die vraag is nie óf ons ’n bydrae gaan maak nie – ons doen dit reeds; positief of negatief. Die vraag is eerder: Is ons bydraekonstruktief? Is dit uitkomsgedrewe? Dra dit by tot stabiliteit, groei en hoop?

Miskien moet elkeen van ons gereeld stil word en vra: As almal hul werk sou doen soos ek myne doen, watter toekoms sou ons bou? Sou daar genoeg kos wees? Genoeg geleenthede? Genoeg hoop?

Van boer tot bord loop daar ’n lyn van verantwoordelikheid. Dit begin in die grond, maar dit eindig nie op die tafel nie. Dit loop deur ons hande, ons harte, ons besluite en ons optrede. ’n Beter toekoms vra nie groter woorde nie, maar beter werk. Nie harder kritiek nie, maar wyser optrede.

Mag ons die voorreg van ons daaglikse brood só gebruik dat dit nie net ons liggame voed nie, maar ook ons roeping versterk, tot eer van God en tot voordeel van die geslagte wat ná ons kom.

Hierdie meningstuk het op 6 Maart 2026 in Pretoria FM se e-koerant, Nuusweek, verskyn.

Kategorie:

Deel dit:

Die krag van kos en die verantwoordelikheid van vandag