James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Die toekoms behoort nie aan ’n opeiskultuur nie

Die toekoms behoort nie aan ’n opeiskultuur nie. Wanneer jongmense oor die toekoms praat, hoor ’n mens soms twee uiteenlopende houdings. Aan die een kant is daar ’n groeiende opeiskultuur: die idee dat die toekoms iets is waarop ons eenvoudig geregtig is en “iets” is aan my verskuldig. Aan die ander kant is daar ’n veel meer veeleisende, maar ook meer hoopvolle benadering: dat die toekoms gebou moet word deur mense wat verantwoordelikheid aanvaar vir die werklikheid waarin hulle leef.

Vir jong boere as die toekomstige verskaffers van ons kos op die tafel, maar ook vir jongmense in die algemeen, is hierdie keuse van benadering van kardinale belang. Die landbou leer ons iets baie belangrik oor die lewe: niks kom vanself nie. ’n Boer leef nie van aansprake nie, maar van die vermoë om te beplan, te werk, te leer en weer te probeer wanneer dinge verkeerd loop. Die natuur is ’n harde maar eerlike leermeester wat nie toelaat dat ’n ideologie of slagspreuke ’n oes laat groei nie.

Dink byvoorbeeld net aan tyd. Tyd is een van die kosbaarste hulpbronne wat ons het, juis omdat dit nie in ons hande is nie. Niemand kan tyd terugkoop nie. In die landbou word hierdie werklikheid baie duidelik. ’n Gemiddelde boer het in sy aktiewe boerderylewe die geleentheid om ongeveer veertig oeste in te sit. Veertig keer om saad in die grond te sit met die hoop en vertroue dat daar ’n opbrengs gaan wees.

Dit beteken eenvoudig dat daar nie baie ruimte vir groot foute is nie. Elke seisoen tel. Elke besluit tel. Elke belegging in kennis en kundigheid tel. Daarom kan jong boere dit nie bekostig om middelmatigheid te aanvaar nie. Landbou vereis kundigheid, dissipline en ’n voortdurende strewe na uitnemendheid. Tegnologie verander, markte verander, klimaatsomstandighede verander en die boer moet voortdurend aanpas en leer. Diegene wat bereid is om die uitdaging positief aan te pak, het ’n kans om te slaag. Dieselfde beginsel geld ook buite die landbou.

Ons leef in ’n tyd waar geraas dikwels harder praat as feite. Sosiale media, populistiese beloftes en ideologiese slagspreuke kan maklik ’n mens se denke oor die toekoms vertroebel. Daarom is een van die belangrikste vaardighede wat jongmense moet ontwikkel, ’n gesonde onderskeidingsvermoë.

• Die vermoë om te onderskei tussen feit en fabel
• Die vermoë om betroubare data te soek voordat groot besluite geneem word
• Die vermoë om nie alles te glo wat maklik klink of vinnige oplossings belowe nie

Goeie besluitneming, of dit nou op ’n plaas, in ’n onderneming of in ’n gemeenskap is, begin altyd by die waarheid van die werklikheid van nou. ’n Boer wat nie eerlik kyk na reënvaldata, grondtoestande en markte nie, speel met sy toekoms. Presies dieselfde geld vir ’n samelewing wat sy besluite op ideologie eerder as werklikheid bou.

Die geskiedenis wys telkens dat mense wat verantwoordelikheid aanvaar vir hul omstandighede, die vermoë het om nuwe moontlikhede oop te maak. Die toekoms word nie gebou deur mense wat wag dat iemand anders dit vir hulle skep nie. Dit word gebou deur mense wat hul hande uit hul moue steek en bou, gewoonlik onder moeilike omstandighede.

Vir baie jong boere is dit reeds ’n daaglikse werklikheid. Hulle moet met stygende insetkoste, infrastruktuurprobleme en beleidsonsekerheid saamleef. Tog bly hulle plant en jaag telkens weer die bulle in. Steeds bly hulle beplan vir die volgende seisoen. Dit alles met ’n vaste geloof. Daardie ingesteldheid is nie naïewe optimisme nie. Dit is realistiese hoop. Realistiese hoop erken dat ons nie die toekoms kan voorspel nie. Dit erken ook dat ons, uit genade alleen, steeds die vermoë het om ’n beter toekoms te help bou. Hoop word nie net gedink nie, dit word geleef deur verantwoordelike optrede, deur harde werk en deur geloof dat ons roeping meer is as net vandag se uitdagings.

Daarom lê die werklike uitdaging vir jongmense nie daarin om meer te eis nie, maar om meer te bou.

• Bou kundigheid.
• Bou karakter.
• Bou gemeenskappe.
• Bou ’n kultuur van verantwoordelikheid.

Want uiteindelik behoort die toekoms nie aan diegene wat die hardste eis nie. Die toekoms behoort aan diegene wat bereid is om dit, dag vir dag en seisoen vir seisoen, met wysheid, geloof en toewyding te bou.

Hierdie artikel het op 20 Maart in Pretoria FM se e-koerant Nuusweek verskyn. 

Kategorie:

Deel dit:

Die toekoms behoort nie aan ’n opeiskultuur nie

Windscreen Masters

Enige lid/vriend wat deur Windscreen Master hul ruit laat vervang, kan dit op die plek van sy keuse laat doen. Windscreen Master hanteer ook die skakeling met die lid/vriend se makelaar/versekeraar asook die registrasie van die eis indien van toepassing.

Verco Energy

Verco Energy lewer goedkoper diesel aan TLU SA affiliasies/lede/vriende in sekere afleweringsgebiede.

Timac Agro

Spesiale aanbiedinge om kunsmis teen beter pryse aan te koop, slegs vir TLU SA-lede.

Relevante artikels

NBM

TLU SA se ooreenkoms met NBM bepbaal dat TLU SA affilliasies/lede/vriende afslag ontvang op verskeie versekeringsprodukte

Hendrik de Swardt

082 852 8039

Philippie de Beer

083 230 4583

Relevante artikels

LWO

Die LWO ondersteun boere as werkgewers in alle aspekte rakende arbeidsregwetgewing.

MarketVest

MarketVest maak gebruik van gevestigde, gekontrateerde groenkaart tegniese kontrakteurs regoor die land wat vinnig hulp kan verleen met aanbevelings en installasies. Vir elke suksesvolle afgehandelde installasie wat deur TLU SA na MarketVest verwys word, ontvang TLU SA ʼn verwysingfooi.

Firearms Guardian

Firearms Guardian is ’n unieke korttermynversekeringspakket vir vuurwapeneienaars. Dit bied dekking teen regskostes en aanspreeklikheidseise, wat spruit uit selfverdediging, skiet-ongelukke, strafregterlike vervolging, jagtogte wat skeefloop, sportskiet-ongelukke, en vele meer.

Finco Finance

Finco Finance ondersteun TLU SA-lede met finansiering by handelsbanke.

Pitkos

Die Pitkos is TLU SA se nuusbrief slegs vir lede. Hierin gee ons vir lede inligting oor die aksies waarby ons betrokke is, standpunte wat ons inneem, spesiale aanbiedinge wat vir lede beding is, opkomende geleenthede en waardevolle inligting soos aankondigings in die Staatskoerant wat op landbou betrekking het.