Die benutting van ‘n taal is inderdaad ‘n wonderlike ervaring van ontdekking en die gepaardgaande verryking van ‘n mens se eie vermoë. Dit is altyd heerlik om te luister na iemand wat ons pragtige taal suiwer besig en inhoud help gee aan ‘n taal met begrip soos min ander tale dit kan doen. Ons taal het sy ontstaan te danke aan ‘n harde leerskool en ervaring in die praktyk van vele uitdagings wat oorbrug moes word – vir dit alles het die pragtigste beskrywende woorde en uitdrukkings die lig gesien. Die ander wonder van Afrikaans is dat ons taal skeppend en positief is, steeds lewe en aanmekaar groei om elke moontlike terrein van die samelewingsorde in ‘n spreektaal, maar ook ‘n opgetekende taal te laat vergestalt.
Die hartseer vandag is dat die woorde waarmee ons grootgeword het in die politieke omgewing in gekaap is. Dit is hier waar die rooi ligte flits en elkeen mooi moet besin oor wat ek bedoel as ek ‘n woord gebruik en wat die ANC vanuit die politieke arena daarmee bedoel.
Daar is verskeie voorbeelde van hierdie tendens, soos hervorming, transformasie, regstellende aksie en bemagtiging.
Vir my, wat vanuit ‘n bepaalde geloofsbeskouing as my fondament bou aan die toekoms ingevolge my kultuuropdrag, het die begrip hervorming ‘n dieper betekenis. Die feit dat Martin Luther in 1517 sy 95 stellings aan die kerk se deur in Wittenberg vasgespyker het, was die begin van ‘n omwenteling om die Woord van God sentraal as die bron van waarheid en lewe – wat vir ons die evangelieboodskap bring, met die wete dat alle eer aan God alleen gegee moet word as die Gewer van alle goeie dinge – Soli Deo Gloria – te plaas.
In die algemeen en deur my lewe, beteken die begrip ook om iets te verander of om te skakel na iets beter. Die ANC-regering het die woord egter gekontamineer en gekaap deur te begin praat van grondhervorming. Deur hul eie erkenning ‘n jaar of so gelede, het meer as 90% van die grond wat hulle “hervorm” of oorgedra het, uit produksie gegaan. Gewis nie ‘n geval om iets te verbeter nie, maar eerder te vernietig – ons mooi woord met goeie betekenis het deur ‘n politieke agenda oorgeskuif na die anderkant van die skaal.
Ons sal moet besef dat dit wat ons bedoel met ‘n woord gewis nie meer vandag dieselfde betekenis in die politieke omgewing gaan hê nie. Daarom kan ons nie ongekwalifiseerd goedbedoelde woorde gebruik en dink ons het ‘n verbintenis tot iets mooi nie. Die praktyk moes ons teen hierdie tyd al geleer het dat ons ongelukkig moet verduidelik wat ons sê en bedoel. Indien ons dit nie doen nie verbind ons onsself aan iets wat heel moontlik in ons gesigte gaan bars.
Elkeen van hierdie woorde en vele ander behoort in perspektief gestel te word wanneer ons dit gebruik. Die beste voorbeeld van die ommeswaai van ‘n goeie woord na ‘n vernietigende ideologie toe is seker die begrip “transformasie”.
Oorkoepelend het die ANC ‘n transformasiebeleid. Daarbinne verpak hulle ‘n verskeidenheid aspekte wat ideologies gedrewe is, soos kader ontplooiing, SEB en dies meer. Dit is betreurenswaardig dat persone en organisasies wat ingelig behoort te wees, ongekwalifiseerd sodanige beleide onderskryf.
In kort kan ons in 1994 begin om die gevaar te verduidelik. Op daardie stadium het die ANC-regering ‘n hele reeks instellings in ‘n werkende toestand ontvang wat almal op hulle manier ‘n bydrae gelewer het tot Suid-Afrika se effektiewe funksionering. SAL, Denel, die poskantoor, spoorweë, Eskom, Onderstepoort, munisipaliteite met dienslewering soos riolering en waterverskaffing, en vele meer. Watter van hierdie instellings is steeds funksioneel doeltreffend? Deur die bank het hul almal disfunksioneel geraak. Die rede? Getransformeer tot mislukking.
Voedselsekerheid is seker een van die belangrikste aspekte om na te streef om te verseker dat daar nie anargie in ons land losbars nie. Dit begin by ‘n kommersiële boer wat kos vir die mark produseer. Daarom betreur ons dit dat sommige organisasies in die landbou-omgewing ten spyte van waarskuwings, selfs op skrif, voortgegaan het om ongekwalifiseerd af te teken op ‘n landbouplan wat grootliks fokus op “transformasie”. In praktyk is die werklikheid dat niemand wat hierop afgeteken het enigsins die voorreg gaan hê om inhoud aan die ANC se ideologiese “transformasie” te kan gee nie. Dit is die praktyk sedert 1994 en dit gaan nie ‘n ander uiteinde as die ander vernietigde instellings hê nie.
Hierdie “transformasie” agenda van die ANC kom al hoe meer na vore in aanloop tot die verkiesing. As party is hulle nou in ‘n doodloopstraat en spartel met die belaglikste aankondigings om te kyk of hulle nog enigsins die stemmers kan oortuig van ‘n beter lewe vir almal. Die jongste konsepregulasies oor waterlisensies kan gevoeg word by die lys van “transformasie”-resultate soos wetgewing oor gelyke indiensneming en onteiening sonder vergoeding.
Suid-Afrika is tans nie op ‘n goeie plek nie. Die privaatsektor, wat ten spyte van ‘n beleidsomgewing wat sterk daarop fokus om vertroue af te breek (te “transformeer”), volhard steeds ten spyte van die chaos op elke lewensterrein, om suksesse te probeer bereik. Ons het geneig geraak om deurlopend te kyk of ons oplossings vir die velerlei probleme kan kry. Die probleme is egter die simptome of gevolge van ‘n oorsaak – ‘n beleidsomgewing wat wêreldwyd nog net armoede en baie hartseer veroorsaak het. Indien die oorsaak van ons land se legio probleme nie reggestel word nie, sal ons deurlopend dieselfde simptome ervaar.
Solank Suid-Afrika se mense in onkunde of naïwiteit gaan toelaat dat ons onsself laat meesleur op hierdie vernietigingspad wat tans elke instelling verguis, beweeg ons al verder weg van ‘n toekoms vir ons land en sy mense. Die hartseer is dat mense wat beter behoort te weet hulle verbind tot hierdie ideologiese vernietingspad en selfs meedoen om dit te implementeer.
Suid-Afrikaners sal moet kies – gaan ons volstaan om die ANC se ideologiese pad van vernietiging te ondersteun of gaan ons kies om ekonomiese volhoubaarheid na te streef, waar daar geleenthede geskep sal word om die ekonomie te groei om ons polities-geskepte sosio-maatskaplike werkloolheidkrisis om te draai?
Elke persoon sal moet besluit wat hul nalatenskap sal wees – die keuse sal gevolge hê vir die nageslag en die geskiedenis sal ons daarop oordeel.
Deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder: TLU SA