Hierdie tyd van die jaar is die meeste van ons kliphard besig om beplanning te doen oor hoe gaan familie en geliefdes rondom die feestyd bymekaar kom. Ongelukkig is dit vir vele van ons volksgenote nie beskore om selfs ’n maaltyd op Kersdag te kan geniet nie.
Deur die jare het van ons lede by verskeie instansies soos Volkshulp 2000, Helpende Hand of een van verskeie ander instellings plaaslike en nasionaal donasies gemaak om verligting vir die uiterste nood te help bring. Ons kan net weer ’n beroep op ons lede doen dat indien dit wel op u hart druk om in die tyd uit te reik na die mense in nood, enige donasie by die instelling van u keuse baie hoog op prys gestel word.