Op plaaslike regeringsvlak, veral as dit kom by eiendomsbelasting, is grondeienaars voos gedruk om te betaal vir dienste wat nie gelewer word nie, of skaars sigbaar is. Die munisipaliteite dwing betaling af, veral as die rekening gekoppel is aan dienste soos elektrisiteitsvoorsiening en water. Ons mense is moedeloos, negatief en voel magteloos.
Gun ons die geleentheid om aan elke leser ‘n blik te gee op die mag wat jy in werklikheid het. Die struktuur wat die besluit oor betaling van belasting en vir dienste wat gelewer word of nie neem, is die munisipale raad. Die raad het uitvoerende magte binne die munisipaliteit wat alle besluite kan neem. Hulle magte is bo die besluite van enige ander plaaslike regering struktuur, solank dit aan die wetlike aspekte voldoen en nie ongeldig is nie. Die provinsiale en nasionale strukture kan slegs leiding en ondersteuning gee, maar hulle kan nie ‘n besluit veto nie.
Dit is belangrik dat jy as inwoner en belastingbetaler ingelig is oor wie die raad is en wie hulle daar plaas. Die raad bestaan onder andere uit lede vir elke munisipale wyk. Die raadslede moet tydens ‘n verkiesing die meerderheid stemme in ‘n spesifieke wyk verwerf en word deur die munisipaliteit opgelei om behoorlik besluite te kan neem.
Wie plaas die raadslede daar? Dit is jy, inwoner, belastingbetaler, wat jou stem moet uitbring om te bepaal wie jou in die raad gaan verteenwoordig en hoe jy bevoordeel of benadeel kan word.
Indien jy as inwoner en belastingbetaler nie registreer om te stem nie, of weier om te stem omdat jy ‘n spesifieke standpunt wil maak, sal die kiesers wat wel opdaag die meeste stemme in die spesifieke wyk uitbring. Of dit lede van die huidige regerende party of die rooi beret bende is, hulle sal dan bepaal wie die spesifieke raadslid sal wees wat oor jou lewe, jou toekoms en dus jou finansiële vermoë besluit oor die bedrag wat die munisipaliteit nodig het om sy koffers te voer.
In ‘n sogenaamde demokratiese land soos SA, sou dit verwag word dat die onafhanklike verkiesingskommissie sy stem dik maak. Die kommissie behoort aan die regerende party ‘n duidelike prentjie te skets om te wys hoeveel kiesers daar is en hoeveel hul stem uitgebring het. Hierdie inligting is van kardinale belang om te bepaal of inwoners se ware deelname voldoende is om hul siening te verteenwoordig. Die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN of Human Sciences Research Council) het in 2021 names die verkiesingskommissie ‘n opname gedoen en gevind dat 28% van kiesers nog nooit gestem het nie. Bykans ‘n derde van die land se inwoners het nog nooit hul stem laat hoor nie. Slegs ‘n kwart van die kiesers het aangedui dat hulle gereeld stem. Dit beteken dus dat ‘n kwart van alle kiesers besluite neem wat 100% van die land se inwoners raak. Anders gestel, 75% van die inwoners word onderwerp aan besluite wat slegs 25% neem.
Die regering en die verkiesingskommissie gaan nie van oortuiging verander en erken dat dit nie aanvaarbaar is nie. Dit is waar ons vandag onsself bevind en waarom munisipaliteite oorgeneem word deur raadslede wat slegs daar is vir die inkomste en voordele en om deur korrupsie, wanorde en diefstal hul hande in die goudpot te kry. Hulle veroorsaak algehele chaos eerder as om ‘n gebied te regeer. Die rooi beret bende spring op en af spring, veto alle besluite te veto en saai wanorde. Hoe groter die chaos, hoe groter hul mag.
Waar staan ek en jy? Ons wil orde hê en dienste ontvang sonder om in lang rye te staan. Ek wil graag by die munisipaliteit opdaag en vriendelik ontvang word in my taal, want ek is ‘n belastingbetaler wat die staatsamptenaar se salaris befonds. Ek wil gehalte diens van die klerk agter die toonbank ontvang. Ek wil op paaie ry wat in ‘n goeie toestand is en daagliks onderhou word – geen slaggate! Ek wil veilig wees, beweeg sonder om ‘n slagoffer van misdaad te wees. Ek wil ontwikkeling sien in my gebied sodat elke inwoner behoorlike werk teen billike vergoeding kan verrig. Burgers moet nie afhanklik van toelaes wat deur die staatskas befonds word wees nie; toelaes wat in werklikheid my belastingbydraes is en mildelik uitgedeel word asof daar geen einde aan die goudpot se bodem is nie.
Dit is ons droom, ons toekomsvisie. Hoe gaan ons daar kom? Ek moet my stem uitbring, of soos sommiges sal sê, hakke inslaan. My hakke inslaan is om my stem dik te maak, te sê hoe ek voel oor die land en die regering deur my ondersteuning te gee aan dit wat my saak kan bevoordeel. My weerhouding en teenkanting teen die regerende party gaan nie ‘n werklikheid word as ek nie aksie neem nie. Dit beteken bloot dat iemand anders daardie vakuum waar my stem ‘n impak moes maak, gaan absorbeer met ‘n stem vir die uitgevrete staatsamptenare wat slegs daar is om soos termiete alles te verteer wat voor hulle kom sonder om enige verpligtinge na te kom.
By TLU SA handhaaf ons die standpunt om nie politiekgedrewe op te tree nie. Dit is ook nie vandag die boodskap aan jou, die leser, nie. Ons wil jou as belastingbetaler aanmoedig om die vakuum wat met die verkeerde stem gevul kan word, te vul met ‘n “hakke inslaan” aksie. Gebruik jou stem om die raadslid wat ‘n besluit oor jou lewe en toekoms gaan neem, te verkies.
2024 kan die verskil maak. Die land is deur die huidige bestel regeer tot in die afgrond in, jy kan ‘n verskil maak aan die toekoms. Dit is in jou hande.
Geskryf deur Erika Helm, TLU SA Voorsitter van Plaaslike Regering Komitee