Die koronavirus en implikasies daarvan is van groot belang en daar kan nie ligtelik daarmee gehandel word nie. Daar is sekere dinge wat gedoen kan word en daarna is dit nie in ons hande nie.
Pas die higiëne beginsels korrek toe en gaan slegs na winkels toe wanneer daar die nodige dringende aankope gedoen moet word vir die huis, of indien dit in die belang van die produksieproses vir voedselvoorsiening – as ‘n landbouer – is. Die impak van COVID-19 het reeds ‘n groot deel van die ekonomie redelik vinnig tot stilstand gedwing en dit is nou moeilik om te verreken wat dit gaan verg om weer die ekonomie te laat herleef. Dit is egter belangrik dat ons binne die nodige higiëne maatreëls elkeen steeds poog om ons ekonomie te laat aanhou lewe sover dit moontlik is, daar op ons eie plaaslike gebied.