Gesprek is op baie hoë vlak met die Landbank gevoer oor hulle posisie om wel te kan voortgaan met landbou-finansiering. Die Landbank het die versekering gegee dat dit hul mandaat is om landbou te help en daarop sal hulle fokus.
Dit bly ‘n ope vraag of die nodige befondsing verkry sal word om boere betyds voor die volgende plantseisoen te kan bystaan met inset-finansiering. Daar word tans na verskeie moontlike geleenthede vir finansiering gekyk. Die werklikheid vir finansiering se beskikbaarheid vir die volgende plantseisoen is ‘n uitdaging.
Kommer bestaan ook of die nodige bestuurskundigheid gesetel is in die Landbank om wel ‘n gesonde finansiële instelling te kan wees.
Ons moet voor Julie antwoorde hê om seker te maak dat die finansieringsproses betyds sal kan inskop. Indien enige lid enige gedagte het wat ontgin moet word in die verband, hoor ons graag. Sodra daar enige moontlikhede bevestig word sal dit dadelik deurgegee word.