Dr. Gawie du Toit se bemestingsproef met mielies in samewerking met Hoërskool Ermelo en TLU SA, het vir soveelste keer bewys die najaag van maksimum oeste moet getemper word met realistiese bemesting vir maksimum wins.
Die grootskaalse bemestingsproef met mielies is in Oktober 2021 deur plaaslike boer Gerrie Janse van Rensburg aangeplant.
“Ons het meer as een doel met die proef gehad. Dit dien as ’n praktiese demonstrasie en besoekterrein vir die leerders van die Hoërskool Ermelo se Landbou-akademie. Dit is ’n manier vir hulle om te kan ervaar hoe ’n plant op bemesting reageer met betrekking tot oesprestasie. Verskillende hoeveelhede stikstof(N), fosfor(P) en kalium(K) is toegedien. Die groei en ontwikkeling van die plante is gedurende die seisoen noukeurig dopgehou en foto’s is geneem,” sê dr. Gawie du Toit, gronddeskundige wat tydens ’n boeredag in Ermelo die afgelope week die resultate bekend gemaak het.
“Dan ook sal ons ook met die finale oesprestasie vasstel of ’n groot NPK-inset – om ’n maksimum oes te behaal – finansieel geregverdig kan word. Dit is ’n aspek wat algemeen voorgehou word as die aangewese metode vir mielieproduksie. Die aspek van winsgewende mielieproduksie sal dan ook in besonder onder die loep geneem word.”
Vir dr. Du Toit sluit dié proef aan by meer as 40 jaar se reeks NPK-proewe.
“Dit is weer eens bewys dat onnodige oormaat bemesting een van die vernaamste oorsake is vir die enorme mielieskuld, wat volgens Statistiek SA en ander waarnemers in die omgewing van R120 biljoen beloop. Die oplossing lê tog duidelik daarin dat buitensporige NPK-inset vir najaag van maksimum oeste getemper moet word met realistiese bemesting vir maksimum wins.”
Die boeredag is ook deur TLU SA se president mnr. Henry Geldenhuys bygewoon.
“Insetkoste speel groot rol om suksesvol te boer en dit verander voortdurend. En dit neem toe. Voedselpryse het ook toegeneem. Dit is ’n gegewe wat ons nie kan verander nie. Daarom is dit belangrik dat as ons wil aanhou boer ons mooi moet somme maak. Dit is belangrik om insetkostes so laag as moontlik te probeer hou. Om die rede is proewe soos dié waardevol vir landbou in die land,” sê mnr. Geldenhuys.
Ander wat die dag bygewoon het en na die resultate geluister het, was Derek Matthews van Graan SA, Fasie de Kock van Timac AGRO, boere van die omgewing en leerders wat aan die proewe deelgeneem het.
“Hoogste opbrengs is nie die meeste wins nie. Dit is die werklikheid. Dit is so belangrik dat boere data – waarvan daar nie ’n tekort is nie – tot hul beskikking moet gebruik,” het mnr. Matthews gesê.
Dr. Du Toit se vennoot dr. Hendrik Smith het boere aangemoedig om self inligting in te win en nie net op die voor die handliggende staat te maak nie. “Ken jou grond. Weet wat met jou grond aangaan. Moenie alles op pamflette glo nie. Vra vir meer inligting. Vra vir die wetenskaplike toetse wat die inligting wat aan jou gegee is, bewys het.”
TLU SA Hoofbestuurder mnr. Bennie van Zyl het gesê die tyd is nou vir boere om dié feite en proefresultate tot hul beskikking te benut.
“Ons hoop wat ons vandag hier sien en leer, gaan boere help om beter besluite te neem en om te fokus op dit wat hulle gaan help om groter winsgewendheid in hul boerdery na te streef .”
Vir die uiteensetting van die proefresultate soos deur dr. Du Toit gedoen besoek dié skakel. https://res.cloudinary.com/dv3blmt4r/images/v1695373485/EHS-OES-NPK-PROEF-JULIE-2021-22_1081870093/EHS-OES-NPK-PROEF-JULIE-2021-22_1081870093.?_i=AA



