Vanjaar het die skrywer Nico Schamrel, weer die liefdadigheidsprojek aangepak om fondse in te samel vir slagoffers van plaasaanvalle en -moorde.
Die projek is ’n lywige boek, getiteld – My Gebed vir ʼn Boer Twee – wat uit kortverhale, gedigte, vertellings, gebede en resepte bestaan. Verskeie van Suid-Afrika se bekendes soos Steve Hofmeyr, Carla van der Spuy, Amor Vittone, Kallie Roux, Martelize Brink en Meyer le Roux het saam met Jan Alleman geskryf aan hierdie boek. Talentvolle skrywers en digters het werk gelewer van hoogstaande gehalte.
“Die goeie terugvoering wat ons ontvang oor die boek is oorweldigend. Die belangstelling in die projek is werklik hartroerend,” sê Nico Schamrel.
Die projek het ook ’n kontant-skenking ontvang van Cordis Trust en geniet blootstelling oor verskeie radiostasies, asook in die media. Deur My Gebed vir ʼn Boer Twee word ook bewusmaking geskep oor en vir plaasaanvalle en -moorde in Suid-Afrika.
“Ons spoor elke Suid-Afrikaner aan om ’n boek te koop. Dit is immers die boer wat ons van kos op ons tafel voorsien,” sê Nico.
Hy hoop om soveel boeke as moontlik te verkoop. “Met elke verkoopte eksemplaar kan ons iemand bystaan met berading. Ons besef nie die geweldige emosionele pyn wat ʼn plaasaanval te weeg bring nie. Ook aan die werkers op die plase. Die sielkundige uitwerking daarvan is skrikwekkend. Elke slagoffer het berading nodig om weer te kan fokus en om berusting te vind.”
Al die winste wat uit verkope verkry word, word geskenk aan TLU SA met die bedoeling om trauma-berading te bied aan slagoffers.
“Die boer gee so baie en ons gee so min terug,” meen Nico, “Die Here het die boer gekies om te produseer, om kos aan ons te voorsien, want ons almal moet aantrek en ons almal moet eet. Dit is ons plig om ook om te sien na die boer se welstand.”
Indien jy graag hierdie projek wil ondersteun, kan jy ’n boek só aankoop:
Stuur jou bestelling per e-pos na bets.adminco@gmail.com
- Dui aan hoeveel boeke;
- Verstrek die adres van jou naaste Pep Stores in jou e-pos (of die Pep-kode);
- Verstrek jou selfoonnommer (jy ontvang ’n boodskap wanneer jou pakkie beskikbaar is);
- Heg jou bewys van betaling aan by jou e-pos;
- Gebruik asb. net jou NAAM EN VAN as verwysing met elektroniese betaling;
- Die prys is R300.00 per boek en sluit posgeld (PAXI) in. Indien jy meer as een boek bestel, kos die boek R240.00 + R60.00 PAXI-posgeld.