Die Oos- en Natalstreek is nie uitgesluit uit die buitengewone hoe reënval gedurende Desember 2021 nie. In sekere gedeeltes was dit só nat dat boere nie klaar kon plant nie. Daar is boere wat nie top bemesting kon gee nie en opvolg bespuitings is ook baie agter. Die beskikbaarheid van spuit vliegtuie is ook ’n probleem en daar is lang waglyste. Alternatiewe prosesse vir die bespuiting van gewasse soos helikopters en hommeltuie word ondersoek en oorweeg. Die gewasse is tans geel en kort son en hitte. Van die oudste mielies hanteer die toestande beter en begin nou in saad kom. Tans is dit moeilik om met sekerheid te sê, maar wil dit voorkom of die potensiaal laer is as die langtermyn gemiddeld.
In die Oos-streek – alhoewel geen definitiewe bepalings gedoen is nie – is groot haelskade op soja en mielies plek-plek ervaar. Daar was ook ernstige omheining skade met riviere wat baie ver oorstroom het. In sommige gedeeltes is omheinings ’n vierde keer na vloedskade herstel.
TLU SA in samewerking met Hoërskool Ermelo onderleiding van dr. Gawie du Toit van TLU SA se Adviesdiens is tans besig met ‘n mielieprojek op die plaas van mnr. Gerrie van Rensburg. Proewe is geplant en die projek is goed op dreef. Dié projek beloof om aan die leerders in die Landbou-afdeling van Hoërskool Ermelo ’n praktiese benadering van ‘boer jy vir wins of boer jy vir opbrengs’ te gee. Hierdie projek gaan egter nie net vir die toerus van skoolgaande leerders nie, maar gaan ook ’n praktiese riglyn vir die boer in die algemeen teweegbring.
Wat ’n reuse-sukses was die skietdag nie. TLU SA in samewerking met Wildman het op die 11 Desember 2021 by die Vlakfontein skietbaan in die Ermelo distrik die skietdag aangebied. Die doel van die skietdag was om praktiese scenario’s vir die skuts te skep en was die onderskeie scenario’s baie van toepassing op die hedendaagse misdaad gebeure.
Nie net was daar groot pryse op die spel nie, maar die samesyn van almal wat die dag bygewoon het, uitsonderlik lekker. Die doel van die skietdag was nie net om fondse in te samel nie, maar het ons dit ten doel gehad om dit ook as ’n opleidingsgeleentheid te benut. Skuts wat gedurende die dag deelgeneem het was dit eens dat dit een van die bes georganiseerde skietdae was wat hulle aan deelgeneem het. Skuts was dit ook eens dat die wyse waarop beamptes die verrigtinge gehanteer het uit die boonste rakke was. TLU SA Oos- en Natalstreek is van voorneme om hierdie tipe geleentheid op ’n meer gereelde grondslag aan te bied. Die waarde van hierdie tipe skietdag in die sin van opleiding mag nie onderskat word nie.