Meelewing en betrokkenheid is ‘n vandag ‘n faktor wat wyd bevraagteken. Met ander woorde, hoe betrokke is mense vandag by hulle organisasies, kultuurverenigings, skole, kerke, sportklubs? Hoe aktiveer mense hulle bepaalde interne proses ten opsigte van dinamika om dit waarby hulle betrokke is, te ondersteun, te benut of uit te brei?
In die geval van ‘n sportklub is daar persoonlike belangstelling wat maak dat iemand gaan tennis, rolbal of gholf speel. Wanneer mens aan ‘n kulturele vereniging of landbou organisasie of enige plek waar ‘n diens gelewer moet word gaan kyk, dan is die meelewing ongelukkig besig om te taan. Maar intussen is dié meganismes besig om waardes te bou, kultuur te skep, te verseker dat ons geanker bly. Meer nog so in ‘n landbou-organisasie waar daar kollektief gekyk moet word na hoe die landbou omgewing so sinvol en realisties as moontlik geskep kan word, sodat boere winsgewend en volhoubaar kan boer.
Hierdie bly vir TLU SA ‘n groot uitdaging, aangesien die meelewing en betrokkenheid al hoe minder en swakker word. Dit beteken dat ons strukture het wat nie meer in stand gehou kan word nie, en wat nie meer hulle rol kan speel nie. Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners juis nou meer betrokke raak. Elke persoon moet homself die vraag vra in hoe ‘n mate hy sy struktuur help bou en sterker maak sodat ons ook die nodige wringkrag kan genereer en sodat ons in belang van landbou kan optree. Of die teenvraag: Is ek iemand wat op die kantlyn staan en net kritiseer en nie konstruktief bydrae nie?
Bydraes van enige individu vandag is van kardinale belang, aangesien die veranderlikes waarmee ons in landbou te doen het, van so aard is dat boere elkeen onder ander tipe druk funksioneer as gevolg van droogtes, hael, vloede, rampe, misdaad en veldbrande, wat maak dat hulle winsgewendheid ernstig aangetas word.
TLU SA wil vandag ‘n ernstige pleidooi lewer dat ons lede betrokke moet wees by ons strukture en help om strukture uit te bou en seker maak dat hierdie strukture in die posisie is om kollektief saam vir ons te kan beding.
Dit is hoekom grondvlakstrukture so belangrik is. Dit is daar waar die boerdery realiteit plaasvind en waar boere kollektief die knelpunt kan raaksien en deurgee en vir ons die leiding gee ten opsigte van wat daaraan gedoen kan word. Sodat TLU SA se UK kan help oplossings soek deur middel van ons komiteestelsels.
Groete
Bennie
Foto davide ragusa | Unsplash