Dit is met groot kommer dat ons die gebeure in Piet Retief dophou. Boere sit in ‘n verknorsing; aan die een kant is die omgewing net so veilig soos wat die plaaslike veilgheidstrukture – bestaande uit boere – beskerming kan verskaf; maar aan die ander kant word boere uit alle oorde gekruisig wanneer hulle wel optree in ‘n noodsituasie.
Landelike veiligheid is lankal reeds op ‘n mespunt en word gereeld aangevuur deur ondeurdagte uitsprake en opsweping. Met die nasionale verkiesing op 27 Oktober verwag ons dat hierdie optrede net gaan vererger en dat boere telkens die sondebok gemaak sal word.
Die Piet Retief-voorval is ‘n slegte ding en kon nie op ‘n slegter tyd gebeur het nie. Dit het ‘n baie negatiewe impak op boere wat deel is van veiligheidstrukture of bloot besorg is oor hulle gemeenskap se veiligheid.
As TLU SA werk ons hard om boere deel van die plaaslike veiligheidstrukture te maak. Maar nou is die ou wat nog getwyfel het om betrokke te raak heeltemal afgeskrik. Boere wat in die verlede sou, sal in die toekoms nie meer reageer as ‘n buurman in die moeilikheid is nie. Die sielkundige impak gaan landelike veiligheid negatief beïnvloed.
Staan sterk boere. Bly betrokke en tree verstandig op.
Groete,
Henry