2023 het verby gesnel met baie uitdagings en ‘n minder vriendelike landbou omgewing van die regering se kant, hoë insetkoste, wisselvallige reënval, hoër pryse van kunsmis en brandstof, om maar net ‘n paar te noem. Ons het ook gesien hoe plaasmoorde, plaasaanvalle en diefstal steeds plaasvind. Daar was ‘n klomp negatiewe situasies wat ons die heeltyd tegemoet gekom het. 2023 was vir baie mense beslis nie ‘n maklike jaar nie, maar ons het alle aanslae teëgestaan en is baie dankbaar vir die voorspoed wat ons ervaar het. Dit is alles die genade van bo.
Ons staan op die vooraand van ‘n nuwe jaar en wil alle boere voorspoed toewens. Mag julle goeie oeste en gesondheid beleef in 2024, sodat ons volgende jaar dié tyd kan sê, ons het vanjaar finansiële voorspoed op ons plaas ervaar.
2024 sal sy eie uitdagings inhou. Die verkiesing lê voor en bring nuwe druk vanaf die regering omdat hulle resultate aan hul kiesers moet wys, maar dit bly steeds belangrik om ons oë op die Here te hou en te bly bid vir voorspoed vir ons en ons geliefdes.
Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om vir u elk ‘n geseënde en veilige feesseisoen toe te wens. Mag ons die nuwe jaar ingaan met nuwe hoop en nuwe aspirasies. Vestig julle hoop op Christus, want Hy is die baken wat ons sal lei deur die nuwe jaar. Mag ons nie ophou om daagliks te bid vir vrede en voorspoed in 2024 nie.
Dankie vir ons boere wat hard gewerk het vanjaar en ons verbruikers wat ons ondersteun. Julle laat landbou leef.
Groete
Henry
Foto Behnam Norouzi | Unsplash