Ek wil namens TLU SA my dank uitspreek teenoor al ons lede wat op welke manier bygedra het om die On Trac-tor trekkerreis vir fondsinsameling vir mediese prosedures vir kinders en bewusmaking oor plaasaanvalle te ondersteun. Ons het ook van Dr André Hattingh en TJ Marais van die 911-motorfietsryers terugvoer ontvang waarin hulle TLU SA bedank vir hierdie bydraes.
Vir die lede wat nog besig is met voorbrande wil ek voorstel dat julle deur julle brandverenigings versoek dat julle nog tot teen middel-Augustus kan brand, hoewel die wet bepaal dit moet teen Julie afgehandel wees. Moet dit asb nie afstel nie, dit is baie belangrik.
Verder wil ek lede vra om deurentyd op hulle hoede te wees. Plaasaanvalle bly ‘n krisis en het geensins gestop nie. Boere moet let op hulle veiligheid deur voorbereid te wees, patrollies te ry en alle veiligheidsmaatreëls te volg.
Ons jaarlikse kongres wat vanjaar weer soos van ouds ‘n spog-affêre gaan wees, vind op 6 September plaas. Lede sou reeds hulle uitnodigings ontvang het. Met dit in gedagte wil ek vra dat reorganisasie so ver as moontlik moet plaasvind voor die kongres. Ons wil graag die nuwe streeksvoorsitters tydens die kongres aankondig. Dit vergemaklik sake heelwat as hierdie leierboere reeds vooraf tot op boereverenigingvlak verkies is.
Laastens wil ek dankie sê aan die jongboere van regoor die land wat vir die jaarlikse Jongboer van die Jaar-kompetisie ingeskryf het. Jongboere is vir TLU SA baie belangrik en ons wil graag bydra om julle ‘n hupstoot te gee in die landboubedryf. Die wenboer sal tydens die kongres aangekondig word. In dieselfde asem ook my grootste dank aan die onderskeie borge wat vanjaar se beoordeling en pryse moontlik gemaak het. Julle belegging in jongboere is onmeetbaar.
Groete,
Henry