Ek en Henk van de Graaf, TLU SA se Noordstreek voorsitter, het onlangs die geleentheid gehad om ’n afvaardiging van die ID-groep (Identiteit en Demokrasie) in die Europese parlement in Kaapstad ontmoet.
Een van die versoeke wat ons aan hulle gerig het, is dat die Europese Unie ’n reisverbod op President Cyril Ramaphosa en sy kollegas behoort te plaas, en ook enige van hulle bates in Europa te bevries.
Ons het ook oor die gevare van onteiening sonder vergoeding met hulle gepraat.
Ons het verduidelik dat die uiteindelike effek van onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika presies dieselfde as Robert Mugabe se destydse grondgryp van wit boere se grond in Zimbabwe is. Daarom behoort die Europese Unie dieselfde maatreëls teen President Ramaphosa en van sy kollegas in te stel, as wat gedoen is met Mugabe.
Ons het ’n breedvoerige oorsig oor die landelike veiligheidsituasie in die land, en veral die gebreke daarin, gegee. Die plaasmoord en -aanval statistieke is in diepte bespreek, sowel as die probleme met veediefstal, en die parlementslede het met skok reageer toe beelde van hierdie wandade vertoon is.
Ons het landbou kwessies soos eiendomsreg, die mislukking van die regering se sogenaamde grondhervormings, en die gevaar van onteiening sonder vergoeding, met hulle bespreek.
TLU SA het die parlementslede ook gevra vir ondersteuning om internasionale befondsing vir die Suid-Afrikaanse boere se behoeftes, en internasionale vennote vir die oprigting van verskeie gesamentlike ondernemings te vind.