Ons staan op die vooraand van ‘n nuwe brandseisoen, veral in die somerreënvalgebiede. In die verlede het boere groot verliese gely as gevolg van brande, insluitende veeverlies en weidingstekorte. As boere nasionaal voorsorg tref kan dit bydra dat brande minder versprei en tot rampe lei.
Provinsies en die reëls en regulasies rondom brandbestryding verskil. Dit is belangrik dat alle boere hulle vergewis van die bepalings van die Nasionale Veld- en Bosbouwet (101 van 1998), die bywette van spesifieke munisipaliteite en regulasies van brandverenigings wanneer hulle voorbereidings tref vir die komende brandseisoen.
Hoewel die wet sê dat boere nie aan ‘n brandvereniging hoef te behoort nie, is dit tot jou voordeel. Versekeringsmaatskappye vereis ook dat boere aan hierdie verenigings behoort. Indien ‘n brand op jou grond ontstaan en na buurplase versprei kan siviele eise volg. Indien jy aan ‘n brandvereniging behoort (en die regulasies navolg) is jy onskuldig totdat ‘n party jou skuld of nalatigheid kan bewys. Indien jy nie aan ‘n brandvereniging behoort nie, is jy skuldig en rus die onus – en uitgawe – op jou om jou onskuld te bewys.
Die wette en regulasies kan tegnies raak, en daarom is dit voordelig om by ‘n brandvereniging aan te klop. Daar is egter sekere punte wat ek graag uitlig.
- Daar moet ‘n voorbrand reg rondom jou plaas – jou buitegrens – wees. Hoewel spesifieke afstand nie aangedui word nie, bepaal die wet dat dit ‘n “redelike” area vry van enige brandmateriaal wees.
- Wees versigtig wanneer jou voorbrand aan ‘n openbare pad grens. Hou afstande in gedagte en maak seker dat jy bordjies en vlagmanne het wanneer jy in so ‘n gebied brand.
- Ervaring het geleer dat dit goed is om voorbrande rondom werkershuise, die opstal en voer – soos bale hooi – te maak. Verseker ook dat jy ‘n veilige plek het om vee te beskerm.
- Vergewis jou van die nodige toerusting in geval van brande soos bepaal deur jou brandvereniging. ‘n Bakkie-sakkie, trekker met waterkarre, spuite en windblaasmasjiene kan gebruik word. Beskermende klere soos oorpakke van katoen en opleiding vir werkers oor wegholbrande is belangrik.
- Maak seker dat jy genoegsame noodhulpmateriaal, veral vir brandwonde, beskikbaar het.
- Radiokommunikasie met werkers, bure, plaaswag, boerevereniging en die gemeenskap is altyd noodsaaklik.
- Volg op nadat jy voorbrande gemaak het, sodat smeulende vure nie onbeheerbare brande veroorsaak nie.
- Verseker dat jou versekeringsbepalings volledige dekking bied.
- Wees paraat. Vure is ‘n manier om boere uit hulle huise te lok.
Lede kan my gerus kontak om meer besonderhede of raad oor brandvoorsorg te bekom.
Groete,
Henry
Foto: Matthis Volquardsen