Gebeurlikheidbeplanning
Suid-Afrika beweeg in ‘n onseker politieke tydperk, en ons versoek lede om seker te maak dat gebeurlikheidsplanne in hulle gemeenskappe in plek is. Selfs na die verkiesing is daar groot onsekerheid oor ekonomiese beleggings of onttrekking van internasionale maatskappye en beleggings. Hierdie onsekerheid het nie net ‘n invloed op besighede landswyd nie, maar ook op boerdery bedrywighede. Een internasionale maatskappy wat reeds voor die verkiesing onttrek het, is Shell, wat reeds sedert 1902 in Suid-Afrika sake doen. Maroela Media berig dat Shell tans in ‘n bittere twis gewikkel is met Thebe Investment Corporation, sy vennoot vir swart ekonomiese bemagtiging, oor die waarde van Thebe se belang in die maatskappy. Misdaad en werkloosheid wat seëvier saam met rasgedrewe beleide van die ANC regering bied plaaslike en internasionale beleggers meer risiko’s as voordeel.
Ek doen ‘n verdere beroep op boere landswyd om vroegtydig voorbrande te maak. Die noordelike gedeelte van Suid Afrika se brandseisoen het amptelik op 1 Junie afgeskop.
Die brandgevaar is veral hoog waar baie droë, brandbare materiaal voorkom, daar min reënval en in hoogliggende areas wat meer winderig is. Die beste verweer is om voorbrande op jou grond te maak, en die weer is tans ideaal daarvoor.
Elke grondeienaar is verantwoordelik om voorbrandbane te maak aan sy kant van sy grens met sy buurman om te verhoed dat ‘n vuur tussen eiendomme versprei.
Groete
Henry