Die onbetwisbare gebrek aan onmiddellike ondersteuning wanneer gevaar dreig, noop landbouers en plaasbewoners om effektief te kan optree om eerstens lewe en liggaam te beskerm en dan om te sien na die veiligheid van eiendom hetsy die grond, produkte/lewende hawe, gereedskap en installasies te beveilig.
Gegewe die werklikheid dat in die algemeen dit blyk asof die getal kriminele die potensiële slagoffers getallegewys oorskry, is dit bloot logies dat onderlinge steun deur bure gevolg deur effektiewe optrede deur ander lede van plaaslike veiligheidsorganisasies absoluut wenslik is.
In ten minste drie gevalle in die onlangse verlede het potensiële slagoffers die bordjies effektief verhang deur onmiddellik te reageer met ‘n vuurwapen en die gevolg was geneutraliseerde aanvallers wat ‘n duur prys betaal het.
Dit beklemtoon net weereens dat die oordeel en paraatheid van die indiwidu ‘n hoeksteen is wat lewensverlies, ernstige besering en trauma kan verhoed. Gevolglik kan dit nie anders as om te aanvaar dat juis daardie paraatheid (en onmiddellike toegang tot ‘n vuurwapen asook ‘n hoë vlak van vaardigheid daarmee) die verskil tussen lewe en dood kan maak nie.