Op 18 Mei 2022 is die oorsig verslag in terme van die statistiek opname en die vordering met ontwikkelingsplan binne SA aan die Parlementêre komitee voorgelê.
2022 word gekenmerk as die eerste digitale sensus wat in SA onderneem is en moet die uitslag van deelname en inligting baie nou ondersoek word. Daar was drie metodes van vaslegging van inligting naamlik die aanlyn metode, telefoniese metode en persoonlike interaksie met data vasleggers. Die amptelike “tel” proses het op 2 Februarie 2022 begin. Daar was ’n geleentheid vir aanlyn registrasies en het die amptelike persoonlike besoeke op 14 Februarie begin. Die opsommende verslag sal onderneem word vanaf 1 Junie 2022. Die algemene aanlyn opname was egter nie na wense nie met slegs 33% van geregistreerde persone wat die opname aanlyn onderneem het. Van die persone wat wel die aanlyn vorm oopgemaak het, het 80% daarvan die vorm voltooi terwyl daar ongeveer 200 000 vorms aanlyn voltooi is. Die rekenaar gebaseerde onderhoude het heelwat beter presteer met 18,2 miljoen huishoudings wat daaraan deelgeneem het. Ongeveer 68 000 huishoudings het aangedui dat hulle deur telefoniese onderhoude deelname sal onderneem.
Die prestasie tot op 13 Mei 2022 het aangedui dat die Wes-Kaap die swakste presteer het met slegs 66% wat voltooi is, 10% in proses en 24% is onaangeraak. Die ander provinsies het almal bo 87% voltooi.
Tekortkominge wat ondervind was is die gebrek aan voldoende personeel as data versamelaars. Verder het ’n tekort aan voldoende voertuie ook ’n probleem geskep. Bykomend by hierdie tekortkominge was daar natuurlik in sekere provinsies ‘n hoë teenkanting in die telproses. Dit is ’n geleentheid wat in die toekoms ernstig aangespreek moet word om totale deelname te bemoedig ten einde die werklike prentjie te skep.
Die finale sensus data behoort binne 12 maande beskikbaar te wees.
WAAROM IS SENSUS NOODSAAKLIK?
Dit is een van die belangrikste faktore om die werklike status van die land se inwoners te bevestig wat dan ‘n rol sal speel op die ontwikkeling wat benodig word asook waar daar tekortkominge is wat vergelyk word met bestaande beplanning wat geïmplementeer is. Dit is in werklikheid ‘n toets of die regering geslaag het in sy ontwikkelingsplanne al dan nie.
Die Nasionale Ontwikkelingsplan was onderneem in 2012 en moet daar dan ook in terme van die sensus opname bepaal word of die regering aan sy mandaat voldoen het. Daar word elke dag onrus, protes en stakings ervaar en slegs ’n werklike ondersoek na die status van die land se ontwikkeling kan bepaal of hierdie optredes geregverdig is al dan nie. Wat ook in gedagte gehou moet word is dat die gewone inwoner in die land ook hierdeur geraak word aangesien die munisipaliteit se ontwikkelingsplan wat deur konsultasie nog vars in die geheue is, op die nasionale ontwikkelingsplan gebaseer is. Die belastingbetaler kan homself dus nie isoleer van hierdie plan nie, aangesien elke sent in die belastingkas deel uitmaak van hierdie planne.
Die basiese behoeftes in SA sluit in: Te min werksgeleenthede; Verdeelde gemeenskappe; Korrupsie; Swak opleiding; Die ewig verbrokkelende infrastruktuur van die land.
“Visie sonder aksie is slegs ’n droom. Aksie sonder visie is slegs ’n tydverdryf. Visie met aksie kan die wêreld verander.” – Joel Barker
Die sleutel is om die vermoëns van die mense, die staat en die ekonomie te ondersteun en uit te bou sodat daar minder staat gemaak word op die regering om alles te onderhou met ’n gebrek om aan die vereistes te voldoen. Om dit te bereik moet die ekonomie met 5,4% groei per jaar vir die volgende 20 jaar. Daardeur kan ongeveer 11 miljoen werksgeleenthede geskep word. Die armoedige stand van die inwoners het verminder van 51% in 2006 tot 36,4% in 2011 waarna hierdie syfer weer gestyg het na 40% in 2016 met die laaste sensus opname. Die sosiale toelae speel ’n belangrike rol en is die afhanklikheid daarvan kommerwekkend.
Werksgeleenthede het ’n klein persentasie van groei getoon, maar dit haal nog nie die doelwit van die Nasionale Ontwikkelingsplan nie. Teen 2019 was daar ’n tekort aan werksgeleenthede van 60% van die doelwit. Sowat 313 000 werksgeleenthede het verlore gegaan in die vervaardigingsbedryf alleenlik gedurende 2010 tot 2019.
Die land se ekonomie se gemiddelde groei was 2,2% en het hierdie groeisyfer geval na -7,0% in 2020 weens Covid-19. Bevolking groei is 1,6% per jaar wat beteken die land is besig om in armoede te verval. Die elektrisiteitsnetwerk het ook ’n fisiese beperking op die ekonomiese groei van die land geplaas.
Gemarginaliseerde huishoudings maak tans staat op gratis publieke dienste vir gesondheid en opvoeding. Covid-19 het die aandag afgetrek terwyl daar geensins in ag geneem is dat persone met HIV toegeneem het van 4,25 miljoen in 2002 na 8,23 miljoen in 2021. Die regering se beplande Nasionale Gesondheidsversekering sal hierdie ernstig in ag moet neem aangesien die druk geplaas gaan word op geïntegreerde publieke en private gesondheidsorg finansiering.
Die behoefte aan behuising het die aantal van informele nedersettings en behoefte aan infrastruktuur onder druk geplaas.
Die nasionale ontwikkelingsplan het in die vooruitsig gestel ’n regering in staat om ‘n ontwikkelende rol te speel in die groei van die ekonomie en die lewering van dienste deur gekoördineerde en funksionele publieke instellings en bevoegde, etiese en professionele publieke dienaars. Uit die talle onrus, stakings en betogings wat gewelddadig raak, is dit duidelik dat die inwoners van die land se behoeftes geensins beantwoord is nie en daar ’n skeiding is tussen die inwoners van die land en die regering.
Die land het ’n onstabiele politieke administratiewe vlak, ’n tekort aan koördinering, uitermate hoë vlak van korrupsie, tekort aan voldoende polisiëring wat strek vanuit onvoldoende opleiding en bevoegdheid by die SAPS. Daar is geen vertroue tussen die inwoners van die land en die regering nie en sal dit as basis die eerste stap moet wees wat die regering moet onderneem. Of die regering met sy kaderontplooiing, korrupsie, wanbesteding en swak bestuur hierdie skuif sal kan maak, word betwyfel en moet die inwoners en grondeienaars van die land besef dat daar ‘n moeilike tyd voorlê. Binne elke gemeenskap se vakuum moet daar indringend beplan word om selfonderhoudend te wees om die groot verval van die regering te kan oorleef.