Almal is bewus dat rampe deel van landbou is. Die vraag is waar lê die verantwoordelikheid in die hantering daarvan? Daar word bevind dat sommige boere versekering uitneem vir al die moontlike risiko’s. Ander doen dit gedeeltelik en ander weer vat die kans om nie te verseker nie as gevolg verskeie redes soos bv. bekostigbaarheid. Elke individuele boerdery is blootgestel aan risiko’s wat verskillend kan vergestalt. Sommige boere maak behoorlike brandbane, terwyl ander geen poging in die verband aanwend nie.
Ons is almal bewus van die regering se onvermoë om effektiewe en spoedige rampondersteuning te kan gee. Dit is belangrik dat lede hul eie situasie volledig ontleed en die nodige voorsorgmaatreëls moet implementeer. Die verantwoordelikheid begin inderdaad by die plaas self en moet alle risiko’s verreken word. Elke plaas is ’n besigheidsentiteit in eie reg en derhalwe sal die aksies wat vooraf geneem moet word, verskil.
Die volgende aspekte behoort ten minste oorweeg word:
- Veiligheid op die plaas ten opsigte van aanvalle, maar ook die diefstal van produkte, infrastruktuur en insetmiddele sowel as moontlike betreding;
- Veldbrande wat gestig word of natuurlik kan ontstaan;
- Opvolg beplanning inaggenome die effek van kapitaalwins – en boedelbelasting;
- Droogte, vloede, windstorms en ander natuurrampe soos sprinkane;
- Ongelukke op die plaas of andersins wat die broodwinner uit sirkulasie kan haal;
- Die korrekte hantering van arbeidsaangeleenthede in al sy fasette is noodsaaklik;
- Winsgewendheid vir volhoubaarheid.
Vir hierdie en ander risiko’s is dit belangrik dat vooraf beplanning rondom dit gedoen word vir voorkoming sover moontlik. TLU SA het vir verskeie van hierdie risiko’s inhuis die oplossing soos byvoorbeeld die Finansiële Welstandlessenaar en die Adviesdiens oor winsgewendheid, terwyl daar ook goeie ooreenkomste en samewerking met ander rolspelers is. Met die dat daar vir die toekoms nie noodwendig enige hulp van die regering sal kom nie, sal ons self voorsiening moet maak vir die bestuur en hantering van risiko’s.