TLU SA is uiters bekommerd oor die gepubliseerde Final Sector Target Regulations en Employment Equity Regulations, 2025, soos aangekondig deur die Minister van Indiensneming en Arbeid op 15 April. Hierdie rasgebaseerde teikens, wat deel vorm van die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming van 2022 wat op 1 Januarie 2025 in werking getree het, dwing werkgewers in 18 geïdentifiseerde ekonomiese sektore om sogenaamde “numeriese teikens” te haal gebaseer op ras-klassifikasie.
Wat op papier voorgestel word as ’n stelsel vir “gelyke verteenwoordiging”, is in werklikheid ’n ideologiese dryfveer wat geen werklikheidsin toon van die uitdagings wat die Suid-Afrikaanse arbeidsmark en spesifiek die landboubedryf in die gesig staar nie.
Slaan die ekonomie verder aan skerwe
Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, is hierdie nuwe rasgebaseerde teikens net nóg ’n poging van die regering om verantwoordelikheid af te skuif vir sy eie beleidsmislukkings.
“Vir drie dekades sit ons met ’n regering wat nie verstaan dat jy nie ’n ekonomie op ras en dwang kan bou nie. Die gevolge van kaderontplooiing, swart ekonomiese bemagtiging en die verwaarlosing van onderwys en vaardigheidsontwikkeling is sigbaar in elke hoek van die samelewing. Staatsinstellings is verlam, dienslewering is onderbreek, en nou wil die regering weer met administratiewe voorskrifte herstel wat hulle self afgebreek het.”
Van Zyl sê verder dat die ekonomie op vrywilligheid werk, nie op opgelegde kwotas nie. “Jy kan nie besighede dwing om aan numeriese rasse-teikens te voldoen sonder om die konteks van daardie sektor in ag te neem nie. In die landbou is daar al hoe minder werksgeleenthede, en dikwels sukkel boere om selfs hul eie gesinne volhoubaar in die boerdery te hou. Hierdie regulasies gaan nie net teen die kernbeginsels van ’n vryemarkekonomie nie, dit is eenvoudig nie prakties uitvoerbaar nie.”
Straf die plase wat nog werk skep
Die praktyk toon reeds dat boere, ten spyte van enorme ekonomiese en infrastruktuurdruk, steeds werk skep, vaardighede oordra en plaaswerkers onderhou, meestal sonder staatshulp. Verder word daardie selfde werkgewers strafbaar gestel as hulle nie aan die nuwe rasgebaseerde teikens voldoen nie, tensy hulle “regverdige redes” kan bewys.
Van Zyl waarsku dat hierdie sogenaamde regverdige redes uitgelewer is aan die oordeel van owerhede wat dikwels self nie die bedryf verstaan nie. “Wie bepaal of jou rede regverdig is? ’n Staatsamptenaar wat nog nooit ’n plaas betree het nie? Daar is reeds te veel voorbeelde van hoe administrasie gebruik word as ’n wapen teen produktiewe burgers. Hierdie nuwe regulasies gee net nóg ammunisie vir misbruik.”
Verliese vir die staat self
Ironies genoeg ondermyn die nuwe regulasies die staat se eie doelwitte. Ingevolge Artikel 53 van die Wet op Gelyke Indiensneming sal die staat slegs met instansies kontrakteer wat aan die nuwe teikens voldoen, maar baie produktiewe landbou-entrepreneurs en verskaffers sal nou uitgesluit word van staatskontrakte, juis omdat hulle nie hul boerdery aan die rasverhoudings van die dag kan aanpas nie.
“Hoe verwag die staat om voedselsekerheid te handhaaf, werkloosheid te bekamp en ekonomiese groei aan te wakker as dit produktiewe burgers uit die stelsel stoot? Dit is ’n beleid wat nie net teen gesonde ekonomiese praktyke indruis nie, dit ondermyn die land se toekoms.”
TLU SA glo dat ware ekonomiese vooruitgang slegs moontlik is binne ’n beleidraamwerk wat veiligheid, geleenthede en vryheid van keuse verseker. Entrepreneurs moet aangemoedig word om projekte aan die gang te sit wat werklik werksgeleenthede skep, eerder as om deur rasseklassifikasie en regulasies gekniehalter te word.
“As die regering werklik ’n verandering wil sien, moet hy begin deur onderwys en opleiding radikaal te verbeter, vaardighede aan te moedig, en ’n besigheidsvriendelike omgewing te skep waarin mense met kundigheid, nie kleur, vooropgestel word nie. Só skep jy ’n arbeidsmark waar almal welkom is, en nie net dié wat in die regte blokkie pas nie.”
Hierdie rasgebaseerde teikens raak almal wat werk verskaf, voedsel produseer en die ekonomiese wiel aan die draai hou. Ons sal alle moontlikhede ondersoek om die wettigheid, uitvoerbaarheid en regverdigheid van hierdie regulasies te bevraagteken.









