Met vakbonde wat met ’n massa-staking die land op 24 Augustus tot stilstand wil dwing, doen TLU SA ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om eerlik met die land se inwoners te wees en te wys hy beskik oor die kapasiteit en die wil om die land, sy inwoners en infrastruktuur te beskerm.
“Dat daar moontlik sabotasie van infrastruktuur gaan plaasvind, is ’n realiteit,” sê mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder.
“In die verlede was daar etlike gevalle waar die SAPD staan en kyk hoe saakbeskadiging in ’n erge graad plaasvind. Blaam hoort by die regering wat sy verantwoordelikheid om die inwoners van die land te beveilig nie nakom nie. Is die SAPD eerlik met die inwoners van ons land oor sy gebeurlikheidsplan en of hy oor die kapasiteit beskik om die situasie, wat hy teen die tyd behoort te weet gaan handuit ruk, te kan hanteer?”
Volgens mnr. Van Zyl is dit nou tyd vir die SAPD om te wys hy beskik nog oor die vermoë om die wette van die land toe te pas.
“Daar is hopeloos te veel gevalle van die SAPD wat sy plig om die land en sy inwoners te beskerm, versaak. Daar is dié wat al begin vra of ons land onregeerbaar geraak het. Nou is die geleentheid vir die regering en die SAPD om sterk op te tree.”



