Deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA
Landbou is van nature ’n seisoenale bedryf. Elke seisoen het sy eie plek en rol in die produksieproses: van voorbereiding, plant en groei, tot oes en rus. Die boer weet dat geen seisoen geïsoleerd staan nie, hulle sluit aan by mekaar, elkeen met sy eie geleenthede en uitdagings.
Op die einde van hierdie siklus beland daar kos, in al sy vorme, op die verbruikers se tafels. Hierdie kos is sonder twyfel die grootste stabiliseringsfaktor vir enige samelewing. Dit hou mense in staat om te leef, werk, droom en te bou aan die toekoms.
Die boer verstaan dat niks vanself gebeur nie. Hy of sy moet beplan, besluit en uitvoer, altyd met die kennis dat elke seisoen sy eie dringende take het. Daar is geen ruimte vir uitstel nie. As die plantseisoen verby is, kan dit nie ingehaal word nie. Hierdie ingesteldheid om die regte dinge op die regte tyd te doen, is ’n lewensles wat ver buite die landbou strek.
Ons kan presies dieselfde beginsels op ander sektore van die ekonomie toepas, maar ook in ons persoonlike lewe. Ons almal beweeg deur “seisoene van die lewe”, tye van voorbereiding, groei, oes en selfs rus. Elke seisoen bring sy eie eise, maar ook sy eie geleenthede. Die wyse waarop ons die verantwoordelikheid aanvaar vir die tyd waarin ons ons bevind, bepaal die nalatenskap wat ons bou.
Daar is sekere dinge wat ons eenvoudig nie kan nalaat nie, ongeag in watter seisoen ons is:
• Plant wanneer dit planttyd is. In die lewe beteken dit dat ons die moeite moet doen om te leer, te bou en te beplan voordat ons resultate kan verwag. ’n Jongmens wat in sy vormingsjare nie belê in kennis, vaardighede en karakter nie, sal later sukkel om ’n ryk oes te geniet.
• Onderhou wat jy geplant het. Groei gebeur nie vanself nie, dit vra aandag, dissipline en volgehoue energie. In verhoudings beteken dit om voortdurend te belê in kommunikasie en samewerking. In die werkslewe beteken dit dat jy jou vaardighede moet slyp en aanpas by veranderende omstandighede.
• Oes met dankbaarheid. Wanneer ’n seisoen van beloning aanbreek, of dit finansiële wins, suksesvolle projekte of persoonlike mylpale is, moet ons dit waardeer, deel en gebruik om ander se lewens te verryk.
• Herstel en berei voor vir die volgende siklus. Ná ’n oes moet die land rus en voorberei word vir die volgende plantseisoen. Net so moet ons in ons eie lewe tye van rus en herbesinning toelaat om weer nuwe energie en visie te kry.
Die gevaar is dat mense soms ’n seisoen verkeerd interpreteer. Party probeer oes in die plantseisoen, of plant niks en verwag tog ’n oes. Sommiges saai selfs onkruid en is dan verbaas oor die opbrengs. Ander bly vasgevang in die rusfase uit vrees of gemak, en verpas die geleenthede van groei. In die natuur straf die seisoene sulke wanbestuur vinnig, maar in die lewe is die gevolge soms meer subtiel en langsamer, wat dit selfs gevaarliker maak.
As ons na ons gemeenskappe en land kyk, sien ons ook seisoene. Daar was tye van bou en groei, en ongelukkig tye van afbreek en verval. Ons is dalk nou in ’n seisoen van groot uitdagings – ekonomies, sosiaal en polities. Net soos in die landbou, geld dieselfde waarheid: Hierdie tyd kan nie net verby gewag word nie; dit moet hanteer word. Selfs in moeilike tye is daar saad wat geplant moet word vir ’n beter toekoms.
Hierdie beginsel het ook ’n sterk kulturele dimensie. Elke generasie dra ’n kultuuropdrag, die plig om waardes, geskiedenis en identiteit oor te dra. Dit gebeur nie vanself nie: dit vra doelbewuste keuses en deelname. ’n Kultuur wat nie gevoed en beskerm word nie, sal verdwyn, net soos ’n land wat nie bewerk word nie, in onkruid sal verval.
Daarom is die vraag nie net: “In watter seisoen is ek?” nie, maar ook: “Wat vra hierdie seisoen van my?”. In landbou is die antwoord duidelik: Die weer en die tyd bepaal jou handelinge. In die lewe is dit soms moeiliker, maar die beginsel bly: Pas jou werk en jou fokus aan by die seisoen waarin jy jou bevind.
Miskien is die grootste les uit die landbou dat geen seisoen permanent is nie. Die koue winter verdwyn vir die lente. Droogtes eindig en nat jare volg. Dit bring hoop in moeilike tye, maar herinner ons ook dat ons in goeie tye nie die oes moet vermors nie.
Ons leef in ’n wêreld waar mense dikwels die onmiddellike verkies bo die volhoubare, waar korttermynwins belangriker lyk as langtermynstabiliteit. Die boer se wysheid, naamlik dat alles sy tyd het, dat harde werk en volgehoue sorg nodig is en dat jy maai wat jy saai, is ’n teenmiddel vir hierdie ingesteldheid.
As ons bereid is om die seisoene van die lewe met dieselfde respek, dissipline en geloof te bestuur as die boer sy lande, kan ons almal bou aan ’n nalatenskap wat nie net vir onsself waarde het nie, maar vir die geslagte wat volg.
Hierdie meningstuk het op 22 Augustus 2025 in Pretoria FM se e-koerant, Nuusweek, verskyn.


