Dit is nou al baie lank duidelik Suid-Afrikaners is oor die algemeen op hulself aangewese as dit kom by veiligheid.
“Ek dink nie ons het meer bewyse nodig nie as om na ons land se misdaadsyfers te kyk om te besef elkeen moet na hom of haarself kyk as hulle veilig in ons land wil wees,” sê TLU SA President, mnr. Henry Geldenhuys.
“Dit is egter ’n realiteit dat sekuriteit en veiligheidstoerusting nie goedkoop is nie. Dit is ’n hengse uitgawe, maar ’n uiters nodig een. Om dié rede wil TLU SA ’n daadwerklike aksie begin om Artikel 23 (b) van die Inkomstebelastingwet – wat die publiek verhoed om sekuriteitsuitgawes van inkomstebelasting af te trek – te verander.”
Uitgawes soos veiligheidsmure, sekuriteitskameras, diefwering, elektriese heinings, lemmetjiesdraad, waghonde, 24-uur monitering en gewapende reaksie dienste is vir veiligheid noodsaaklik. TLU SA wil sien dat dit belastingaftrekbaar is om uitgawes aan te gaan om jou eie, jou gesin en werkers se veiligheid te verseker.
“TLU SA doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners wat na hul veiligheid wil omsien om by ons saak aan te sluit. Help ons om Artikel 23 (b) van die inkomstebelastingwet te wysig, sodat alle Suid-Afrikaners hul risiko kan verminder om ’n slagoffer van geweld te word.”
Met genoegsame ondersteuning gaan TLU SA ’n petisie aan die parlement rig.
Artikel 56 (d) en 69 (d) van die Grondwet, saamgelees met die Reëls van die Nasionale Raad van Provinsies en Nasionale Vergadering, maak voorsiening daarvoor dat die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies petisies, vertoë of voorleggings van enige belangstellende persone of instellings kan ontvang.
Openbare deelname aan wetgewing, toesighouding en ander prosesse van die Parlement is ’n belangrike grondwetlike bepaling van ons demokrasie. Die Parlement het ’n aantal maniere ontwikkel om openbare betrokkenheid by die werk van die instelling te bevorder. Een manier waarop die publiek hul reg om aan die Parlement deel te neem kan uitoefen, is deur ’n petisie in te dien.
Daar is oor die algemeen twee tipes petisies, naamlik spesiale petisies en openbare of algemene petisies. TLU SA wil ’n openbare petisie saamstel. Dit is wanneer ’n groep burgers met soortgelyke belange algemene verligting of regstelling van ’n grief versoek.
“Besoek dié skakel https://www.tlu.co.za/vryheid-teen-misdaad/ om jou naam op ons lys te voeg en deel van die veldtog te wees vir publieke veiligheid. Die proses word gedryf vir die mense, deur die mense.”





