Die afgelope twee seisoene het veral die Noord-Kaap en dele van ander provinsies gebuk gegaan onder intensiewe sprinkaanplae. Daar is tans net een maatskappy wat ’n gif geregistreer het wat betyds voldoende voorraad kan lewer voor die sluiting van die fabrieke in Desember. Sprinkane behoort in hul kruip stadium gespuit te word aangesien sodra hulle begin vlieg die bespuiting baie moeilik word en lê hulle dan weer eiers. Sprinkaan eiers kan tot 12 jaar dormant lê alvorens dit uitbroei indien die toestande gunstig is. Die baie reën in die begin van die seisoen kan heel moontlik sodanige gunstige toestande veroorsaak. TLU SA het tydens die Hoofbestuurdersforum versoek dat die Departement van Landbou die proses om gerat te wees vir die hantering daarvan moet bespoedig om seker te maak ons word nie onkant gevang in die Desember tyd indien daar wel sprinkane uitbroei nie.