Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Streeksvoorsitter Wes – John Rankin

As jy ’n beter Suid-Afrika wil sien vir jou en jou kinders, is dit nou die tyd om op te staan, op te hou kla en betrokke te raak waar jy kan om seker te maak daar is ’n toekoms vir alle inwoners van ons land.

Só praat John Rankin TLU SA Streeksvoorsitter: Wes.

“Daar is so baie waaroor mense kla, oor wat verkeerd is in die land. Maar meeste mense kla net, bitter min staan op en probeer iets doen. Ek probeer oral waar ek betrokke is my deel doen om dit ’n beter land te maak. Op skool praat my kinders van takies, nou ek is seker besig met my takie!” vertel John oor sy rol as TLU SA Streeksvoorsitter.

Landbou – om boer te wees – het soveel veelsydigheid en dít is wat vir John uitstaan.

“Boerdery het nie net ’n ekonomiese kant nie, maar ook ’n emosionele kant. Dan is dit seker ook een van die beroepe wat die meeste dimensies het. Om as boer suksesvol te wees, moet jy ook ’n ingenieur, arbeidskonsultant, dokter, weerkenner, makelaar, veearts, onderhandelaar en tegnikus wees! Dit is ook een van die min beroepe waar jy direk afhanklik is van jou Skepper se genade.

“Deurentyd is jy besig om te bou op die fondasies wat jou Pa, Oupa en Oupagrootjie gelê het. Jy en jou plaas word amper een. Jy leef jou uit en jou identiteit word amper gekoppel aan hoe jy boer. Ons werk in die natuur, en het die voorreg om dit met die nuutste tegnologie te doen, dit is uitdagend, en vereis jou beste. Ek dink dit is hoekom baie boere nie kan ophou nie, hy geniet dit net te veel.”

John staan nie terug vir uitdagings of harde werk nie, want hy besef dit is wat deurslaggewend is vir die toekoms.

“Harde, eerlike werk sal enige ekonomie laat groei. Maak jou kinders verantwoordelik groot, gee hulle ’n goeie opvoeding. En binne een geslag, het ons ’n kwaliteit werkersklas. Hou op bakhand staan en werk, hou op kla oor swak paaie, maak die stuk vir jou huis reg. Maak reg wat jy kan…dit is waar mens moet begin.”

Sy liefde vir landbou het as kind al begin. “As kind het ek saam met my pa geboer. Hy was my mentor en held. Ek wou altyd soos hy wees. Later jare het ek begin hou van die lewensstyl, die verskillende goed wat jy doen en die uitdagings om beter te word. Vir my voel dit of die wêreld sal vergaan sonder boere, en dit wil ek nog nie toelaat nie.”

As hy nie in sy landerye staan nie, sal dit nie vreemd wees om John voor die kospotte te vind nie. “Ons as gesin hou van reis, maar ek is ook mal oor kosmaak. Ek altyd gretig om iets nuuts te probeer.”