Ons digitale Kongres 2020 – “’n Nuwe aanslag” – is amper op hande! 9 September 2020 is werklik om die draai.
Die landbousektor is onder toenemende druk en die noodsaaklikheid om saam te staan in hierdie tye kan nie oorbeklemtoon word nie. Wees daarom betrokke, wees daarom deel – ons kan nie sonder mekaar nie. Ons moet saam besin oor ‘n nuwe benadering, ‘n nuwe manier van dink, ‘n nuwe manier van boerdery…
Daar is reeds einde Mei kennis gegee dat die TLU SA Jaarkongres 2020 wel voortgaan in die vorm van ‘n digitale of elektroniese kongres wat via die Zoom-platform sal plaasvind.
Na heroorweging van die Uitvoerende Komitee, is wel besluit om Prof André Duvenhage, Navorsingsdirekteur: Sosiale Transformasie by Noordwes Universiteit te versoek om die Kongres toe te spreek. Hy sal kongresgangers toelig oor die tendense en uitdagings in die landbousektor, gegewe die huidige situasie in Suid-Afrika.
Die kongres gaan slegs u oggend in beslag neem. U kan op u eie by u huis inskakel of in groepe soos wat reeds in verskeie streke beplan word. Die kongres begin om 8:45 en sluit af om 13:00 waarna ons hoop dat u wel in groepsverband en gegewe die bepalings ten opsigte van sosiale afstand ensomeer, in affiliasie- of streek-verband lekker saam kan ontspan.
Ons MOET egter laat weet of u wel gaan inskakel – op u eie vanuit die gerief van u huis of in groepsverband. Elkeen wat die kongres “bywoon” moet op die besprekingsregister aangeteken word.
Indien u nie registreer nie, kan ons nie tel om ‘n kworum te bepaal nie.
Geen stemgeregtigdes sal kan stem vir die leiers of besluite oor die grondwet indien u nie vir die kongres geregistreer het nie.
Ook waarnemers wat nie stemreg het nie, moet asseblief registreer om hul teenwoordigheid te kan aanteken met die oog op die vasstelling van die kworum.
Die opgedateerde program, volledige stemprosedure en registrasievorms is reeds aan u gestuur maar u is welkom om vir Lynne te vra by register@tlu.co.za indien u enige navrae het.
Om hierdie jaar deel van die hoogste beleidmakende proses van TLU SA te wees, is doodeenvoudig en gratis en dit kan hierdie jaar die grootste kongres wees wat in jare plaasgevind het – al wat ons vra is ’n bietjie tyd.
DLU’s en BU’s word ook vriendelik versoek om met hul strukture en substrukture (BV’s) op te volg en kongresbesprekings te koördineer.
Die keerdatum vir nominasies vir die Presidentspos sowel as die Adjunk-presidentspos is 4 September. Volledige besonderhede oor hoe die nominasies moet plaasvind sal ook aan u voorsien word.
Die keerdatum vir besprekings is Vrydag, 21 Augustus maar sodra u weet hoe gaan inskakel handel asb. u bespreking af – dit maak dit vir almal makliker.