Suid-Afrika staan voor ’n keerpunt met sy kragkrisis. TLU SA doen ’n beroep op die regering om Eskom te privatiseer, want die huidige stand van sake kan die land oor die afgrond stuur.
“TLU SA glo die privatisering van Eskom is die enigste antwoord en oplossing vir die land se energie en ekonomiese krisis. Eskom se probleme is operasioneel en finansieel. Om net aan te hou met klein veranderinge en die heen en weer skuif van Eskom se skuld, gaan die probleem nie oplos nie,” sê mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder.
“TLU SA vra dat Suid-Afrikaners nou hul stem dik maak en op die privatisering van Eskom aandring. Minister van Arbeid Thulas Nxesi (ook leier van die SAKP) is gekant teen privatisering. Sy vernaamste rede is dat elektrisiteit dan nog duurder gaan wees en nie alle Suid-Afrikaners sal toegang kry nie. Die ironie is dat tans kry die hele Suid-Afrika net sporadies elektrisiteit! Dit is ook geen geheim nie dat internasionale beleggers op ’n ry hul geld aan die land onttrek weens die kragkrisis. Dit ly tot verdere werksverliese en ekonomiese agteruitgang. Volgens TLU SA sal die privatisering groter voordele tot gevolg hê wat binne ’n paar jaar vir die hele Suid-Afrika reuse-ekonomiese vooruitgang kan bring.”
TLU SA ondersteun Miller-standpunte
In ’n onderhoud met BizNews sê die globale energie-omkeerspesialis KW Miller Eskom is ’n “operasioneel disfunksionele, finansieel insolvent, onbetroubare en korrupte entiteit”. Hy sê die pad vorentoe sal bepaal word deur die optrede van krediteure wat ’n groot deel van hoofsaaklik SA staatsgewaarborgde Eskom-skuld besit. Hy voeg by dat dié skuld veel hoër as die amptelike getal van R400 miljard is.
Miller sê verder Eskom se ware skuld is meer as 75% van Suid-Afrika se totale skuld en dat Eskom se situasie die slegste is wat hy nog in sy hele loopbaan gesien het. “Dit is omdat dit elke moontlike probleem wat jy jouself kan indink, het.”
Hy gaan verder deur te verwys na bedrog. “Die kool-kontrakte is deurspek met bedrog. Die ketels is verwoes weens swak kwaliteit kool. Diesel word ook nie effektief benut nie. Hulle brand 10 miljard liters per dag. Hulle gaan omtrent R20 miljard net aan diesel spandeer in 2023.”
TLU SA stem heelhartig met Miller se standpunte en oplossings saam en spreek ons steun aan hom uit.
“Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om jou naam te voeg by die lys van mense wat stem vir ’n volhoubare kragopwekkingsoplossing in Suid-Afrika. Besoek die webblad en laat jou stem geld. Met die toevoeging van jou naam op die lys maak dit ons stem ons stem harder wanneer ons met die regering gaan praat,” sê mnr. Van Zyl.
Ondersteun TLU SA se veldtog en wees so deel van die oplossing
Kliek op die skakel https://tluveldtogte.co.za/privatisering-van-eskom/ en voeg jou naam op die lys. Die volledige lys van name gaan saam met die brief aan betrokke partye – soos die Minister van Arbeid, Eskom-raad en Pravin Gordhan Minister van Openbare Ondernemings – gestuur word. Dit is al telkemale in die verlede gewys dat wanneer Suid-Afrikaners saam staan veranderinge kan plaasvind. Dit is tyd dat die burgerlike samelewing aandring op hoë kwaliteit diens en druk plaas op die partye om die land in die regte rigting te laat groei.