Die gesegde doen hom werklik gestand en van bier wat van pynappels gemaak word tot teeblare wat skielik goed lyk om in pype te stop, is die kreatiwiteit van ons mense nogal iets om te beleef.
By die Algemene Raad se vergadering van 20 Mei 2020 waar vele raadslede vir die eerste keer ‘n elektroniese vergadering kon bywoon via Zoom, is besluit dat ons moet voortgaan met die kompetisie-evaluering hierdie jaar.
Alhoewel baie projekte as gevolg van die pandemie nie kon voortgaan nie, is die periode waaroor die kompetisies geëvalueer word 1 Mei 2019 tot 30 April 2020. Ons het dus effektief net ‘n paar maande verloor met die inperkingsperiode, maar daar was ook ander inisiatiewe wat in hierdie tyd na vore gekom het wat prysenswaardig is en erkenning behoort te verkry.
Alhoewel die toekenning van die trofeë en bekers nie fisies by die kongres sal kan plaasvind nie, wil ons graag die wen-individue asook wen-affiliasies die nodige erkenning gee deur ‘n artikel oor elke kompetisie-wenner te doen – wat na die afkondiging van wenners op elke moontlike kanaal geplaas sal word.
Indien ons beplanning werk om die digitale kongres ook in vlakke in streekverband te hou, gaan streke ook moontlik by ‘n kuierplek (of konferensie-fasiliteit) met ‘n sterk internet-sein in hul omgewing bymekaar wees en as streek kan inskakel by die nasionale kongres. Daar kan dan moontlik in daardie geledere ook ‘n spesiale geleentheid geskep word om wenners ‘n behoorlike handdruk (basta met die sosiaal aanvaarbare afstand) te gee en foto’s te neem wat sommer dadelik via WhatsApp aangestuur kan word. En daarna kan ‘n lekker streek-geleentheid plaasvind – al is dit net om om ‘n braaivleisvuur ‘n vleisie (en nou ook darem ietsie ter drinke) te geniet met selfs ‘n stof-opskop daarna as die ruimte dit toelaat.
Die blootstelling aan wenners gaan dus hierdie jaar uniek wees en dalk selfs van groter waarde omdat die omvattende artikel met foto’s van die betrokkenes en die kompetisie, ‘n duideliker weerspieëling sal kan wees van wat vermag word.
Daar is in hierdie tyd (ook voor 30 April 2020) baie unieke inisiatiewe op die been gebring deur individue en affiliasies om mede-boere by te staan en gemeenskappe te help wat ook by van die kompetisie-kriteria in ag geneem kan word.
Die kongresdatum is vasgemaak op 9 September 2020 maar omdat ons die gravering van trofeë later kan hanteer en ander administratiewe take wat gewoonlik tyd opneem vryspring, is die sperdatum vir kompetisie-inskrywings uitgestel tot 15 Augustus 2020. Dit gee almal genoeg tyd om die kongresstukke, motiverings en ander inligting in te stuur of te kom aflewer. Die evaluering sal hierdie jaar weer deur die Hoofbestuurder (Voorsitter/Sameroeper), Adjunk-hoofbestuurder, Senior Assistent vir Hoofbestuurder, Finansiële Beampte/Rekenmeester en ‘n onafhanklike individu buite die organisasie-struktuur behartig word.
Onthou die kompetisies handel oor aktiwiteite wat oor die vorige finansiële jaar strek – dit wil sê 1 Mei 2019 tot 30 April 2020 maar die sperdatum vir evaluering is uitgestel tot 15 Augustus.
Ons besef weliswaar dat hierdie tyd sy uitdagings het! So tussendeur die gewone administratiewe take wat elke affiliasie gewoonlik behartig en wat nog altyd sy pond vleis neem, was daar in die afgelope tyd addisionele uitdagings met die impak van die inperking. Van die skuif van kantore huistoe, jouself te oriënteer om met ‘n masker, bril en hoed inkopies te gaan doen, die boerdery steeds te laat vlot loop met minder hande as gewoonlik terwyl die tuisskool-uitdaging soos ‘n monster wag, tot by die steeds omgee vir jou gemeenskap deur kospakkies by hulpbehoewendes te kry ondanks die regulasies.
Ons weet egter ook van baie affiliasies wat in die afgelope maande baie unieke bystand gebied het aan ander en ons ontvang graag ook staaltjies en inligting daaroor – ons sal dit graag ook op een of ander wyse met ons lede wil deel.
JA DIT GAAN ANDERS WEES – MAAR ONS DOEN ONS DING, OP ONS MANIER, IN ONS BOERE SE BELANG – DIT VERDIEN ‘N HANDEKLAP!
Die verskillende kompetisies waarvoor ingeskryf kan word is duidelik gelys by hierdie skakel.
Ons sien daarna uit om julle inskrywings te ontvang – moedig mekaar aan om in te skryf.