TLU SA spreek sy afgryse en diep hartseer uit oor die plaasmoord op At Mahne (77) en die wrede aanval op sy vrou, Pietro (74), in Baltimore, Limpopo. Hierdie tragedie het nie net ’n gesin nie, maar ’n hele gemeenskap tot stilstand gebring en laat Suid-Afrika weereens staar na ’n donker werklikheid wat die regering hardnekkig ignoreer.
TLU SA meen dit is onaanvaarbaar dat die regering sy plig en verantwoordelikheid nie nakom nie. Ons sit met ’n regering sonder politieke wil, sonder beheer en sonder verantwoordelikheidsbesef. Hulle laat toe dat mense vry rondloop nadat hul skares opsweep met woorde soos: “kill the boer, kill the farmer”. Hoeveel kruise moet nog op Ysterberg geplant word voordat die regering wakker skrik? Moet ons net aanhou kruis ná kruis plant asof dit deel van die gewone gang van sake is?
TLU SA is duidelik: plaasmoorde is nie gewone misdaad nie. Dit word gekenmerk deur uiterste brutaliteit en ’n duidelike onderskeid tussen algemene misdaad en aanvalle op boere. Die regering is bewus hiervan, maar weier om dit te erken of dit as priorititeitsmisdaad te verklaar. Hulle redeneer rondom dit en weier eenvoudig om daadwerklik op te tree.
“Die bitter ironie is dat die mense wat boere aanval dikwels dié is wat van die boer se eie arbeid en voedsel afhanklik was,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Burgers behoort veiligheid van die staat te ontvang, maar in plaas daarvan word voorstelle gemaak om wetgewing oor vuurwapens te beperk, wat dit nóg moeiliker maak vir mense om hulself te beskerm. As die staat nie sy eie verantwoordelikheid kan nakom om sy mense te beskerm nie, kan hy nie in die pad staan van dié wat noodgedwonge hulself moet verdedig nie.”
“Ons boere leef elke dag onder die werklike gevaar van aanvalle, en tog sit ons met ’n regering wat nie sy plig nakom nie. Plaasmoorde moet as priorititeitsmisdaad verklaar word. Die politieke wil bestaan eenvoudig nie. Hoe kan ’n regering wat nie bereid is om sy mense te beskerm nie, verwag dat ons stilbly terwyl kruis ná kruis geplant word? Genoeg is genoeg.”
Boere word aangesê om hul paraatheid te verskerp, veral met die feesseisoen wat voorlê. Hierdie tyd is gevaarlik, en TLU SA doen ’n ernstige beroep op alle boere om hulself, hul gesinne en hul gemeenskappe te beskerm. Die organisasie eis dat plaasmoorde as prioritietsmisdaad verklaar word, dat die regering sy verantwoordelikheid nakom, dat betroubare polisiekapasiteit en werklike politieke wil aan die tafel gebring word, en dat enige wetgewing wat burgers se reg op selfverdediging beperk, gestaak word.
TLU SA sal aanhou veg vir die veiligheid en bestaansreg van boere en alle landelike inwoners. Hierdie aanval is nie net ’n statistiek nie; dit is ’n grens wat geen land behoort te oorskry nie.


