James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA stel top drie finaliste in vanjaar se Jongboerkompetisie bekend

Francois Prinsloo, Nets Turvey en Nicky van der Linde staan elkeen as finaliste vir die kompetisie die kans om die spogtitel as Jongboer van die Jaar te kry, en buiten die gebruiklike oorsese reis-prys ook ‘n dubbelkajuit-bakkie vir gebruik tydens die volgende jaar te ontvang. Die finaliste sal ook bykomende kontantpryse in die sak steek.

Die beoordelaarspaneel, wat vanjaar uit sewe lede bestaan, het die finaliste op hulle plase besoek en was dit eens dat die dinamika van die jonger geslag boere verblydend is en werklik hoop gee vir die toekoms.

Die paneellede evalueer elk van die kandidate onafhanklik sonder dat daar tydens die besoeke enige bespreking plaasvind oor enige van die kandidate. Verskeie saakmakende aspekte van die boerdery word beoordeel soos finansiële bestuur, produksiebestuur, bemarking, risikobestuur, onderhoud, arbeidsbestuur, benutting van tegnologie en meganisasie, woordvoering, toekomsvisie, netheid en betrokkenheid by georganiseerde landbou en die gemeenskap.

Na die laaste kandidaat besoek is, is daar gekyk na elkeen van die paneellede se gekose wenner, en ‘n bespreking het daarna plaasgevind. Die top drie finaliste het vanjaar ‘n bogemiddelde indruk by die beoordelaars geskep op die onderskeie beoordelingsterreine.

Aspekte wat wel ‘n blywende indruk gelaat het is onder andere die positiewe toekomsvisie en dan die wete dat daar na winsgewendheid gestreef moet word waar rekordhouding en eie navorsing beindruk het.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder by TLU SA, sê wat vir die beoordelaars by die finaliste uitgestaan het, is onder andere die meelewing en gemeenskapsdiens, georganiseerde landbou en passie vir die landbousaak, asook die entoesiasme om TLU SA te ondersteun vir die beginsels en die waardes waarvoor die unie staan.

Wat ook vir die beoordelaars by die finaliste uitgestaan het, is die geordenheid, rekordhouding, verslagdoening en navorsing van die boerderye.

“Ons jongboere is op koers na die toekoms,” sê Van Zyl. “Dit is jammer dat daar net een wenner kan wees.”

‘n Groot woord van dank aan ons borge, Hatfield Motor Groep, Santam Landbou, Introlab en Manitou wat met hul ruim en oop hande groot pryse beskikbaar gestel het. “Dit is ook net ‘n bewys dat dit belangrik is dat ons suksesvolle boere vir die toekoms moet kweek en dat dit in almal se belang is.

Die wenner sal op 6 September tydens die Boerefees by die Kongres aangekondig word.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA stel top drie finaliste in vanjaar se Jongboerkompetisie bekend