TLU SA het op 2 April 2025 ’n belangrike samespreking met verteenwoordigers van die Verenigde State se Departement van Landbou, gebaseer in Suid-Afrika, gevoer. Die vergadering was insiggewend en het gefokus op die uitdagings en geleenthede binne die Suid-Afrikaanse landbousektor, asook die verhouding met internasionale rolspelers, veral in Amerika.
Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, is kernkwessies soos die volhoubaarheid van landbou en die invloed van beleidsomgewings op beleggingsvertroue bespreek. “Daar is ’n dringende behoefte daaraan dat beleggers ’n veilige en stabiele omgewing ervaar om in landbou te belê. Dit sluit misdaadsekerheid en die vermoë om suksesvol te boer in,” sê Van Zyl.
Tydens die vergadering is die impak van die Onteieningswet en die onsekerheid wat dit veroorsaak, asook die realiteit van plaasaanvalle en -moorde, in diepte bespreek. “Ons het statistieke rakende plaasaanvalle en moorde aan die Amerikaanse verteenwoordigers oorhandig en ook die Suid-Afrikaanse definisie van hierdie misdade verduidelik,” verduidelik Van Zyl.
Die invloed van rassewetgewing op volhoubare landbou en ekonomiese groei is bespreek. Dit is uitgelig dat talle swart boere onafhanklik sukses behaal, maar dat staatsintervensie dikwels tot die inkrimping van produksie lei. “Die staat het al self erken dat wanneer hulle grond oordra, meer as 90% van daardie grond uit produksie verdwyn,” voeg Van Zyl by.
TLU SA het tydens die bespreking ook gewaarsku teen die negatiewe impak van ideologiese agendas en kaderontplooiing op ekonomiese prosesse. “Volhoubare besighede moet winsgewend wees. As jy nie wins maak nie, gaan die mark jou uitwerp. Dit is ’n fundamentele ekonomiese beginsel waaroor TLU SA en VSA se Departement van Landbou-personeel saamstem.”
Die gesprek was positief en het deure geopen vir toekomstige samewerking. TLU SA het versoek dat duidelike kriteria verskaf word rakende geleenthede vir Suid-Afrikaanse boere wat in die VSA wil boer.
Verteenwoordigers van die VSA se Departement van Landbou het die noodsaaklikheid van wedersydse handel in landbouprodukte beklemtoon en benadruk dat oop markte beide ons boerderygemeenskappe bevoordeel. Die VSA-verteenwoordigers het ook die hoë vlak van sukses uitgelig wat Suid-Afrika behaal het met die uitvoer van sitrus en ander hoëwaarde-produkte na die Verenigde State.
Nog ’n sleutelbespreking het oor die uitdagings in landboufinansiering gehandel. “Die politieke, misdaad- en klimaatonsekerheid in Suid-Afrika maak dit al hoe moeiliker om ons boere in produksie te hou. Dit is ’n kritieke saak wat verdere aandag verg,” sluit Van Zyl af.



