In die strate van Limpopo drentel jong kinders met die hoop om iets te ete te kry voordat hulle terug gaan na ‘n “huis” wat net aan-en-af water en sanitasie het. Intussen het die Limpopo Premier Chupu Stanley Mathabatha Maandag 27 November 2023 in Polokwane tydens ‘n amptelike seremonie 57 splinternuwe voertuie soos suigstokkies uitgedeel aan tradisionele leiers.
Hierdie voertuie gaan die belastingbetaler maar net bietjie meer as R30 miljoen uit die sak jaag vir die 2023/2024 finansiële jaar. Die premier het ook in ‘n onderhoud bevestig dat dit nie die einde van die verkwisting van belastinggeld is nie. Die tradisionele leiers gaan verder bederf word met kantore wat R25 miljoen sal kos om op te rig en onderhou, plus ‘n ekstra R5 miljoen om uit te rus.
Die Limpopo provinsie het ongeveer 6,4 miljoen mense waarvan die werkloosheid byna die 50% mylpaal bereik het. Meer belangrik is dat daar ‘n tekort aan noodsaaklike dienste soos gesondheidsorg is. Beurtkrag veroorsaak dat klinieke net soms elektrisiteit het, terwyl kragopwekkers die nood van mense kon verlig indien dit die regering sou behaag. Skole is in ‘n benarde posisie met gevaarlike, onhigieniëse puttoilette wat steeds oral in gebruik is.
Tradisionele leierskap is ‘n belangrike deel van baie gemeenskappe en daar moet wel erkenning gegee word vir die bydrae wat hulle maak. Hulle ontvang reeds jaarlikse vergoeding uit die staatskas van tot R1 315 429 vir ‘n koning of koningin.
“Die miljoene rande wat onlangs spandeer is aan tradisionele leierskap is net weereens ‘n bewys dat die regerende party in ‘n baie kwesbare posisie is met die opkomende verkiesing. Omkoopgeld en voertuie word openlik uitgedeel in aanskoue van die kwynende ekonomie en sukkelende gemeenskappe,” sê Erika Helm, TLU SA Voorsitter van Plaaslike Regering Komitees.
Ten aanskoue van Suid-Afrika se huidige situasie, kan TLU SA homself nie verbind tot hierdie optrede nie. Die vraag kan gevra word hoe vêr die regerende party sy invloed vanuit leiersposisies gaan misbruik om kiesers en rigtinggewers se denke te behou in die komende verkiesing?
“Burgers het ‘n verantwoordelikheid teenoor die land en sy mense om die regte besluit te neem,” meen Helm. “TLU SA is van mening dat hierdie aksie van die Limpopo regering net weereens ‘n bewys is dat die huidige leiers nie die mense se belange op die hart dra nie. Hulle wil net in leiersposisies bly om verder belastingbetalers se swaar verdiende geld te verkwis.”
Dit is nou in die hande van die kiesers om ‘n einde te maak aan swak leierskap en die land te red van algehele verval.
Foto: Dylan McLeod | Unsplash