Die afgelope tyd het TLU SA by verskeie geleenthede gespek gevoer met verskillende tradisionele swart leiers.
Daar bestaan ‘n dilemma dat ‘n groot deel van hulle afhanklik is van toelaes wat deur die staat aan hulle betaal word en dit dan baie moeilik maak om in die openbaar standpunt teen die ANC in te neem. Daar is wel ‘n toenemende ongemak oor die wyse waarop die ANC die verskillende kulture probeer versmoor deur die NDR op almal af te dwing.
‘n Interessante ontwikkeling wat sy kop uitsteek is dat baie van die tradisionele leiers eerder ‘n federale stelsel aanhang waarbinne elke volk seggenskap oor hulle eie sake sal hê.
Daar is al hoe meer mense wat besef dat Suid-Afrika baie moeilik die ANC nog verder kan bekostig. Die prys het vir almal reeds te duur geword.
Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op elkeen van ons om seker te maak dat ons nie vasgevang raak in ‘n kultuur om altyd net ‘teen’ iets te wees nie, maar wel om steeds te bou vir die toekoms. Die karakter van elke individu word in sulke tye getoets.