Deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA
Landbou in Suid-Afrika presteer deurlopend positief, ten spyte van waarskynlik een van die vyandigste beleidsomgewings denkbaar. Boere word daagliks gekonfronteer met ’n klomp uitdagings wat wissel van kruipende onteiening en die aftakeling van eiendomsreg tot omgewingsfaktore wat volhoubaarheid ernstig bedreig. Teen hierdie agtergrond is dit verbasend dat daar steeds genoeg voedsel geproduseer word om die land se mense te voed. Kommersiële boere verdien dus ’n groot pluimpie dat hulle ten spyte van ’n vyandige omgewing volhou.
Beleidsomgewing en hulpbronne
In die vorige bestel is wetgewing en beleid meestal toegepas om natuurlike hulpbronne te bewaar en volhoubaar te bestuur. Vandag is dit egter grootliks afwesig. Die regering speel byna geen konstruktiewe rol in die beskerming van grond, water en die breër omgewing nie. Waar boere verantwoordelikheid neem en goeie bewaringspraktyke implementeer, word daar elders steeds oorbeweiding, erosie en onbeheerde mynbou gesien. Besoedeling en ’n gebrek aan infrastruktuuronderhoud vernietig verdere hulpbronne.
Water is ’n besondere knelpunt. Die staat is die bewaarder daarvan, maar sy bestuur daarvan laat veel te wense oor. Versuim om infrastruktuur te onderhou, lei tot vermorsing, besoedeling en ’n toekoms waar watersekerheid toenemend bedreig word.
Die ideologiese aanslag
Voeg by hierdie uitdagings die ANC se ideologiese aanslag op eiendomsreg, ’n hoekpilaar van ekonomiese sekerheid, en die gevaar word duidelik. Onteiening sonder vergoeding ondermyn die vertroue wat noodsaaklik is vir belegging. President Cyril Ramaphosa se lofspraak van Zimbabwe se beleid is ’n treffende voorbeeld van hoe realiteit en ideologie bots. Terwyl hy hul sogenaamde prestasies in landbou roem, vlug miljoene Zimbabwiërs na Suid-Afrika juis weens die mislukking van daardie beleid.
Produksiefaktore onder druk
Die kern van boerdery lê in die bestuur van die produksiefaktore: grond, arbeid, kapitaal, meganisasie en tegnologie, en entrepreneurskap. Elke faktor is egter onder druk.
• Grond: Onsekerheid oor eiendomsreg maak langtermynbeleggings riskant. Boere huiwer om in verbeterde vrugbaarheid of meerjarige gewasse te belê wanneer hul reg om die grond te besit of oor te dra nie gewaarborg is nie.
• Arbeid: ’n Swak onderwysstelsel lewer grotendeels ’n ongeskoolde arbeidsmag. Dit beteken dat boere ekstra koste dra om werkers op te lei. Minimumloonwetgewing verhoog die druk verder, terwyl plaasaanvalle, diefstal en ander misdaad sekuriteit ’n noodsaaklike, maar duur, uitgawe maak.
• Kapitaal: Die koste van insette styg skerp weens inflasie, wisselkoersskommelinge en hoë brandstof- en kunsmispryse. Intussen bly lenings duur en moeilik bekombaar, aangesien rentekoerse hoog is en banke streng kriteria toepas. In teenstelling met boere in ontwikkelde lande, kry Suid-Afrikaanse boere geen betekenisvolle subsidies nie en is hulle dus in ’n nadelige posisie ten opsigte van mededinging op die internasionale markte.
• Entrepreneurskap: Innovasie word belemmer deur burokratiese rompslomp en die gebrek aan navorsing en ontwikkeling. Hoewel boere self nuwe tegnologieë soos presisielandbou en volhoubare metodes aanwend, is dit ’n individuele stryd sonder enige beleidsraamwerk wat dit aktief bevorder.
• Meganisasie en tegnologie het wêreldwyd ’n vyfde produksiefaktor geword. Dit is reeds besig om in sekere gevalle arbeid te vervang.
Die kompleksiteit lê daarin dat hierdie faktore mekaar beïnvloed. Swak grondbestuur lei tot laer opbrengste, wat kapitaaldruk verhoog en arbeidsdoeltreffendheid beperk. Só ontwikkel ’n siklus van dalende winsgewendheid wat boere uiteindelik dwing om te verklein of selfs boerderybedrywighede te staak.
Onderwys en infrastruktuur
Nog ’n ernstige uitdaging lê in onderwys en infrastruktuur. Suid-Afrikaanse skole lewer grootliks ’n arbeidsmag wat nie internasionaal kan meeding nie. Dit maak arbeid vir entrepreneurs duur en minder produktief. Intussen val infrastruktuur soos paaie en spoorlyne uitmekaar, wat vervoerkoste opstoot en toegang tot markte belemmer. Die eens sterk voorligtingsdienste en navorsingsondersteuning is bykans onbeduidend, wat boere grootliks op hulself aangewese maak vir die ontwikkeling van nuwe en beter praktyke.
Belastinggeld wat teoreties infrastruktuur en dienste behoort te befonds, beland in ’n “bodemlose put” van korrupsie en wanbesteding. Boere en die breër samelewing kry byna niks terug vir hul bydraes nie.
Vind self oplossings
Ten spyte van hierdie uitdagings word daar steeds oplossings ondersoek. TLU SA en ’n span kundiges kyk byvoorbeeld tans weer na die koöperatiewe model, wat boere groter beheer oor insetkoste en marktoegang kan gee. Tog bly die beleidsomgewing ’n deurslaggewende faktor wat die uiteindelike sukses van enige inisiatief kan bepaal. Wanneer die regering inmeng, blyk die kans op mislukking groot te wees.
Beleidsomgewing moet verander
Die kern van die probleem bly ’n beleidsomgewing wat eerder ideologies gedrewe is as ekonomies. Sonder duidelike, nie-ideologiese wetgewing wat eiendomsreg beskerm en ekonomiese groei aanmoedig, sal belegging eenvoudig nie plaasvind nie.
Die ANC se beleid het te duur geraak vir Suid-Afrikaanse burgers. Dit is ’n las wat die land nie meer kan bekostig nie. Ten spyte hiervan moet ons erken dat die volgehoue produksie van voedsel in hierdie omstandighede ’n groot prestasie is. Suid-Afrikaanse boere toon veerkragtigheid en ondernemingsgees te midde van uitdagings wat elders reeds tot totale instorting sou gelei het.
Die pad vorentoe vra egter groter betrokkenheid van alle burgers. Dit is nie net ’n landbouvraagstuk nie, maar ’n nasionale vraagstuk. Die toekoms van ons voedselvoorsiening hang, afgesien van kundige boere, af van ’n beleidsomgewing wat ekonomiese groei, belegging en volhoubare hulpbronbestuur bevorder. Dit sal nie vanself gebeur nie, dit vra dat elkeen sy stem laat hoor en druk uitoefen vir ’n koersverandering wat hoop en sekerheid kan herstel. Kollektiewe deelname skep wringkrag en daarom is dit belangrik dat elkeen behoort in te skakel by organisasies wie se begronding en praktyk hulle belange dien.
Hierdie meningstuk het op 11 September 2025 in Pretoria FM se e-koerant, Nuusweek, verskyn.


