Die vlaag plaasaanvalle wat die land die afgelope agt dae geruk het, kan heel waarskynlik toegeskryf word aan opruiende uitlatings van organisasies soos Cosatu, wat meen dat boere verkragters en moordenaars is en ‘n weersin in boere laat ontkiem.
Volgens TLU SA se statistiek oor plaasaanvalle en -moorde – wat reeds sedert 1990 bygehou word – was daar in Mei vanjaar ‘n effense afname in hierdie misdade in vergelyking met dieselfde tydperk in 2022. Dit het ook in die misdaadsyfers wat ‘n week gelede bekendgemaak is, weerspieël. Die afgelope week se aanvalle wys egter dat daar iewers ‘n katalisator moes wees.
“Ons wil weereens ‘n beroep op die Menseregtekommissie doen om “kwetsende” uitsprake teenoor boere in ‘n meer ernstige lig te beskou,” sê Bennie van Zyl, die hoofbestuurder van TLU SA. “Boere kan nie op die polisie of staat vertrou om ons te beskerm nie. Dit is ook nie, soos in stede, so maklik om in landelike omgewings vinnige reaksie van veiligheidsmaatskappye te kry nie. Ons is dus op onsself aangewese om ons gemeenskappe te beveilig en die narratief oor boere – dat hulle werkers aanrand, baie geld het en grond gesteel het – te verander.”
TLU SA is voortdurend betrokke by landelike beveiligingssprojekte en gee geredelik insette en raad oor hoe om die stelsel te verbeter.
“Ons sal voortgaan om op landelike en persoonlike vlak met die polisie verhoudings te bou om sodoende ‘n beveiligingsnetwerk te bou,” sê Van Zyl. “Ons het ervaar dat verskeie voetsool-lede van die polisie steeds glo in wat hulle doen en onder baie moeilike omstandighede probeer om hulle werk na behore uit te voer. Ons het simpatie met die uitdagings – soos swak bestuur van topvlak, ‘n tekort aan basiese hulpbronne soos betroubare voertuie en ‘n tekort aan ervare spesialismagte – wat hulle aan bande lê. Dit het egter ‘n invloed op die veiligheid van boere, hulle gesinne en werkers en uiteindelik die produksie van voedsel.”
TLU SA doen ‘n dringende beroep op President Ramaphosa en die res van die kabinet om die Minister van Polisie, Bheki Cele, en bestuurslede wat nie hulle pligte na behore uitvoer nie, uit hulle poste te ontslaan en te vervang met gedrewe, lojale, pligsgetroue en ervare amptenare wat opgewasse is vir die taak om misdaad te bekamp.
FOTO: Netwerk24









