Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
Veiligheid dié feestyd Maandag | 13 Desember | 2021

Die feestyd is ’n tyd van groot kommer as dit kom by die veiligheid van Suid-Afrikaanse boere.

“Die tyd van die jaar neem plaasaanvalle en misdaad op plase toe. Daar is die wat roof en diefstal pleeg om iets te kry vir die feesseisoen,” het genl.maj. Chris van Zyl, TLU SA se adjunk hoofbestuurder, gesê.

“Veiligheid in die feestyd is ’n baie belangrike saak en een wat groot kommer veroorsaak.”

Sedert November is verskeie aanvalle en moorde op plase landwyd aangemeld. ’n Duidelike toename is te bespeur.

Volgens Netwerk24 was daar in die laaste drie maande van 2020 nege plaasmoorde in die Vrystaat. Daar was tot dusver reeds drie plaasmoorde in die Vrystaat sedert middel November. Daar was ook al aanvalle in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap aangemeld.

Een van die vernaamste redes vir die toename is die aanname dat boere groot hoeveelhede kontant by hul het die tyd van die jaar om lone en dies meer te betaal.

“Kontant is beslis ’n groot probleem. Die gebruik van ’n digitale betaalstelsel is die oplossing, maar geografiese faktore, toegang tot winkels, hoe om daar uit te kom en die tyd wat dit in beslag neem is van die vernaamste uitdagings om dit uit te voer. Daar is die persepsie dat daar op elke plaas baie kontant, vuurwapens en verhandelbare goedere is.”

Genl.maj. Van Zyl maan ook teen kontant-transaksies vir die koop van vee.

“Dan is daar ’n daling in waaksaamheid en paraatheid – dit is immers vakansietyd – en dan word slagoffers ontnugter en verras.”

Daar is egter nie net waarskuwings nie, maar ook raad van TLU SA se kant vir boere in die tyd.

“Ek moet dit beklemtoon hoe belangrik betrokkenheid by jou onmiddellike omgewing is in dié tyd. Jy kan en mag nie in isolasie leef nie. Onthou, jou buurman is jou naaste bron van hulp.

“TLU SA is sterk voorstanders van die plaaswag-sisteem waar vrywilligers saamspan om mekaar tot diens te wees. Landelike veiligheid werk op sy beste as daar samewerking tussen landbou-unies en die vernaamste rolspelers is. Dit is duidelik uit voorbeelde in Mpumalanga, Limpopo en Noordwes waar daar formele samewerkingsooreenkomste in plek is.”

Genl.maj. Van Zyl verwys ook na die rol van georganiseerde landbou in die stryd teen plaasaanvalle.

“Verskillende landbou-unies moet mekaar vind en gemeenskaplike standpunt inneem, want lewens en eiendom is op die spel. Ons kan nie daarna as net diefstal verwys nie. Ons mag nie diefstal onderskat nie.”

Hy verwys ook na TLU SA se werk aan die langtermyn gevolge van plaasaanvalle. “Ons het toegang tot ’n trauma netwerk om dié wat slagoffers was van plaasaanvalle te help in die pad na herstel.”

 

Foto: Talaj | Shutterstock