Die Ministerie vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die bepaling van 27 Oktober 2021 vir die datum van plaaslike regeringsverkiesing bekend gemaak in die Staatskoerant van 3 Augustus 2021. Hierdie stap was noodsaaklik om die Onafhanklike Verkiesings Kommissie (OVK) in ‘n posisie te plaas om aansoek vir uitstel by die Grondwetlike hof in te dien na aanleiding van die voormalige adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke se verslag wat aanbeveel die verkiesing word uitgestel na nie later as einde Februarie 2022. Hierdie aspek sal dan ook bepaal of die raadslede se ampstermyn verleng word en die wyse waarop daar nog verantwoordelikheid verwag kan word vanaf die raad van die munisipaliteite.
Die hof sal voor einde 27 Oktober 2021 uitspraak moet gee, wat geweldige druk op die Grondwethof gaan plaas. As daar na die teendeel gekyk word, sal dit massa paniek veroorsaak by politieke partye indien die verkiesing wel voortgaan op 27 Oktober 2021.
Hierdie besluit sal ook ‘n geleentheid skep vir opinies dat die verkiesing dan nie vry en regverdig was nie. Die Demokratiese Alliansie en die Instituut vir Rasse Verhoudinge het reeds aangedui dat die aansoek in die hof vir uitstel van die verkiesingsdatum teengestaan sal word. Die verwesenliking by die uitstel van die verkiesing kan potensiaal beteken dat SA op ‘n pad geplaas sal word wat ‘n algehele hopelose verval van die staat sal beteken, waarvan die slagoffers sy mense en die toekoms van die land is.
Die uitbring van ‘n stem in die plaaslike regeringverkiesing beteken in werklikheid dat elke inwoner die geleentheid gegun word om inspraak te lewer op die toekoms van die land. Binne die omgewing waarin ons elke dag woon en werk, word baie van ons omstandighede bepaal deur die regering, hetsy of dit positief of negatief op ons werksaamhede inwerk.
Die raad van die munisipaliteit neem besluite binne ons omgewing en daardie besluite is
nie altyd tot ons voordeel nie, afhangende van die party met die meeste stemme. Dit is waar ons wel ‘n verskil kan maak deur ‘n stem uit te bring in die plaaslike regering ten einde ‘n party daar te stel wat vir ons mense kan optree. As daar in die teendeel nie ‘n stem uitgebring word nie en die wegbly-aksie gevolg word, kry die partye wat ons nie goedgesind is nie, die oorgrote meerderheid stemme en word ons toekoms daardeur beïnvloed. Dit is dus belangrik dat elke lid die noodsaaklikheid daarvan besef om tydens die verkiesing te stem hetsy vir die party volgens sy opinie wat sy saak kan dra.
Hoewel ons weet dat daar min partye is wat werklik in elke behoefte kan voorsien, is die mate waarin ons behoeftes wel aangespreek kan word, reeds ‘n voordeel wat ons nie moet ignoreer nie.
In die lig daarvan wil ons graag elke lid aanmoedig om aktief betrokke te wees in die stemproses en saamstaan om ‘n verskil te maak. Dit is die enigste wyse waarop ons werklik deur aksies, ons verset teen die verval van die regering kan toon.





