Graag wil ons ’n woord van groot dank rig teenoor elkeen wat deel geneem het op welke wyse ook al aan die virtuele staptog teen plaasaanvalle en – moorde. Inderdaad is die bedoeling hiervan bewusmaking gewees en is daar geslaag in die doel.
Die verantwoordelikheid van die staat om na die inwoners se veiligheid om te sien, word ongelukkig nie na behore nagekom nie. Die onlangse vrystelling van die jongste misdaadstatistiek het dit beklemtoon. Ons is terdeë bewus daarvan dat die beskerming van ons eiendom en lewens grootliks nou die publiek se eie verantwoordelikheid geword het. Na die bewusmakingaksie moet elkeen die vraag afvra oor waar pas ons elkeen in die gemeenskapsveiligheidsplan. Ons kan nie die staat vrywaar van sy verantwoordelikheid nie, maar deur net vir hom te wag is gewis nie die antwoord nie.
Elkeen moet besef dat veiligheid by myself begin en het ons elkeen ook ’n rol te vervul in die gemeenskap. TLU SA se landelike veiligheidsplan is beskikbaar en daarmee saam verskeie riglyne en Bulletins wat rigting aandui. Lede word versoek om die dokumente in die praktyk te toets en terugvoer te gee sodat dit net verbeter kan word.



