Deur Bennie van Zyl
Die begrip “van boer tot bord” klink eenvoudig, maar verteenwoordig ’n uiters komplekse proses. Wanneer ons aan daardie woorde dink, is die eerste beeld wat opkom die kos wat uiteindelik op ons tafel beland. Juis omdat dit so vanselfsprekend lyk, vergeet ons dikwels die lang pad en die baie hande wat betrokke was voordat daardie bord kos voor ons staan.
Ek het onlangs die voorreg gehad om in die diep Kalahari ’n draai te maak. Op Koppieskraalpan, met sy uitgestrekte 42 km-omtrek, ervaar ’n mens hoe die stilte hoorbaar raak, hoe son en maan opkom in ’n kristalhelder lug, en hoe die eenvoud van oorlewing daar lyk. Saam met ’n Boesman deur die veld besef jy gou hoe moeilik dit is om voedsel uit die natuur self te bekom. In so ’n harde wêreld, sonder oop water en met uiterste uitdagings, was dit juis mense soos die le Riche-familie wat vasbyt en die gebied bewoonbaar gemaak het. Selfs vandag is dit ’n uitdaging om daar te boer. Hierdie ervaring het my laat besef hoe ongelooflik veerkragtig ons land se boere moet wees om in alle omstandighede die produksieproses suksesvol te bestuur.
Elke produksieproses vereis ’n entrepreneur wat grondstowwe, arbeid en kapitaal kombineer om ’n produk lewensvatbaar te maak. Vir boere is hierdie proses selfs moeiliker, want hulle werk met veranderlikes wat buite hul beheer lê. Waar ’n motorfabriek ’n presiese produksielyn het, moet ’n boer die grilligheid van die weer trotseer, risiko’s soos droogtes en peste bestuur, en selfs optree as eie “regering” deur veiligheid en infrastruktuur self te probeer onderhou.
Hierdie ekstra las is ’n direkte gevolg van die staat se onvermoë om basiese dienste en ’n veilige omgewing te bied. Plaasveiligheid en die herstel van paaie en kraglyne word in baie gevalle deur die boere self gefinansier en bestuur. Tog bly die kern van sukses steeds dieselfde: sonder wins kan daar nie van volhoubaarheid sprake wees nie. Markkragte is die enigste werklike toets meganisme van of boerderygeskiktheid en -voortsetting moontlik is.
Kos beland nie sommer vanself op ’n bord nie. Daar is ’n hele waardeketting waarin elke rolspeler ’n noodsaaklike funksie vervul: insetverskaffers, finansierders, risikoverskansers, vervoerders, verwerkers en verspreiders. Sonder hierdie skakelwerk sou daar eenvoudig nie ’n eindproduk wees nie.
In Suid-Afrika word geskat dat tussen 3,5 en 4,5 miljoen mense direk of indirek in die voedselwaardeketting werksaam is. Dit beteken dat buite die ongeveer 37 000 kommersiële boere wat sowat 95% van die land se voedsel produseer, is een uit elke veertien Suid-Afrikaners iewers betrokke by die prosesse wat daartoe lei dat ons kan eet. Dis ’n verstommende syfer wat onderstreep hoe verweef voedselproduksie met die land se werksgeleenthede, ekonomie en selfs stabiliteit is.
Om jonger geslagte bewus te maak van hierdie dinamiek, het TLU SA vanjaar die “Plant vir die Toekoms”-projek afgeskop. Belangstellende skole is mieliepitte gegee en die groeiproses is stap vir stap verduidelik: van die rol van grond, water en sonlig, tot die verantwoordelikheid van die boer om seker te maak dat die gewas gesond bly en beskerm word teen droogte, siektes en selfs diefstal. Só kry kinders die geleentheid om die pad van een eenvoudige kommoditeit, mielies, te beleef en te verstaan dat dit nooit vanselfsprekend is nie.
Hieruit kan ’n mens maklik die groter prentjie aflei. Elke voedselsoort, hetsy vrugte, groente, vleis of graan, het sy eie uitdagings en unieke waardeketting. Telkens is dit mense, boere en talle ander, wat sorg dat daar uiteindelik genoeg kos is om die land se inwoners te voed.
Wanneer ons dus aansit om te eet, behoort ons dit nie net as ’n daaglikse handeling te sien nie. Dit is die eindpunt van ’n reuse-inspanning. Agter elke bord kos skuil daar duisende stories van boere wat in moeilike tye hoopvol bly, werkers wat hul arbeid gee, en sakelui wat risiko’s bestuur. Dit alles word onderlê deur die genade dat ons in God se volmaakte skepping kan boer en leef.
Kos op die tafel is dus nie net ’n teken van oorlewing nie, maar ook van samewerking, deursettingsvermoë en seën. Ons moet dit raaksien, waardeer en met dankbaarheid geniet. Want “van boer tot bord” is nie net ’n slagspreuk nie, dit is ’n lewenslyn wat miljoene mense se handewerk en toewyding saambind.
Hierdie meningstuk het op 17 November in Pretoria FM se Nuusweek verskyn.


