Die hoofdoelwit wat die minister van landbou aan haar taakgroep gestel het, is hoe voedselproduksie volhoubaar kan voortgaan. Sy het beklemtoon dat die hele waardeketting so na as moontlik in stand gehou moet word sodat voedselsekerheid nie in gedrang kom nie.
Dit blyk nou dat al hoe meer benodighede nie aangekoop of ingevoer kan word nie. Dit veroorsaak onmiddellik ‘n onnodige hindernis in die vloei van voedselproduksie. Dinge wat ‘n boer op die plaas nodig het om die plaas te laat werk – van die kleinste spyker tot ‘n rol draad, ‘n buiteband of ‘n koeëllaer.
Die verskaffers van hierdie produkte is inderdaad almal deel van die noodsaaklike dienste. Sodanige maatskappye behoort almal as noodsaaklike diensverskaffers by die DTI te registreer sodat landbou kan voortgaan om te produseer. Versoek gerus die diensverskaffers wat tans toe is, wat noodsaaklike artikels moet verskaf om te registreer om die diens te kan lewer.