Dit is ’n alombekende feit dat geregistreerde BTW-ondernemers van Suid Afrika in verskillende sektore van die ekonomie die vertraagde BTW-uitbetalings van die SAID moet verduur. Dit is deur ons bepaal dat boekhouers en ouditeure die SAID nader en in gevalle waar die BTW-krediete nie uitbetaal word nie, word die aangeleentheid geëskaleer, of ’n klagte word by die interne nakomings kantoor, bekend as “CMO”, ingedien, of ’n klagte word by die belasting ombudsman aanhangig gemaak sonder sukses in die meerderheid van gevalle.
Die voornoemde lei dikwels slegs tot verdere vertragings, aangesien die eskalering opsie onmiddellik die deur oopmaak vir ’n verdere 21 besigheidsdae beslegtingsproses waarop die SAID beamptes gaan steun oor die algemeen. Die indiening van ’n klagte by die “CMO” en belasting ombudsman lei tot ’n 15 besigheidsdae beslegtingsperiode onderskeidelik.
Om die oplossing te verstaan, vind ons dit noodsaaklik om meer agtergrond te bied rakende hoe die terugbetalings van BTW aan ondernemers behartig behoort te word.
Wat is ’n BTW-terugbetaling?
’n BTW-terugbetaling is ’n bedrag BTW wat deur die SAID aan die ondernemer betaalbaar is, in die geval waar:
- Die totale bedrag BTW gehef op die ondernemer met die aankoop van goedere en dienste, en op die invoer van goedere (en wat as aftrekking toegelaat word) oorskry die totale bedrag BTW gehef op die lewering van goedere of dienste deur die ondernemer vir ’n bepaalde belastingtydperk (na verwys as ‘n BTW-terugbetaling op ‘n opgawe), en
- ’n Ondernemer het ’n bedrag BTW betaal, wat die bedrag oorskry wat aan die SAID betaal moes word (na verwys as ‘n foutiewe te hoog betaling).
Hoe werk BTW-terugbetalings vir ondernemers?
Indien ’n ondernemer geregtig is op ’n BTW-terugbetaling, word van die SAID vereis om sodanige BTW-terugbetaling binne 21 werksdae uit te betaal, vanaf ontvangs van die korrek-voltooide BTW-opgawe. Indien die terugbetaling nie deur die SAID binne die 21 werksdae betaal word nie, is die SAID verplig om rente aan die ondernemer te betaal.
Die SAID mag die uitbetaling van ‘n terugbetaling terughou of die 21 werksdae periode opskort sonder betaling van rente in die volgende omstandighede:
- In die geval van ’n defektiewe en / of nie-volledig voltooide BTW-opgawe, moet die SAID tevrede wees dat die BTW-opgawe nie die terugbetaalbare bedrag beïnvloed nie, asook ontvangs neem van ‘n gekorrigeerde BTW-opgawe;
- Indien die SAID nie in besit is van van die ondernemer se bankbesonderhede nie;
- Alle BTW-opgawes of ander belastingopgawes is nie ingedien nie;
- Die SAID bevind dat ’n geëiste terugbetaling deur die ondernemer aan ’n ander party sal terugbetaal word waar sodanige ondernemer se uitsetbelasting deur sodanige ander party gedra word; of
- ’n verifikasie, ondersoek of oudit van die terugbetaling is nie gefinaliseer nie, tensy aanvaarbare sekuriteit verskaf word.
Die bogenoemde is dus vereistes waaraan ondernemers moet voldoen.
Rente betaalbaar aan die ondernemer
Indien die BTW-terugbetaling nie binne 21 werksdae uitbetaal is nie, sal die SAID moet rente betaal, teen die voorgeskrewe koers, op die bedrag wat terugbetaalbaar is. Die SAID mag, onder bepaalde omstandighede, die 21-werksdaetydperk herbereken of opskort, in welke geval rente nie betaalbaar is nie, tensy die 21-werksdaetydperk wat herbereken of opgeskort is, verstryk.
Die 21-werksdaetydperk sal opgeskort word indien SAID nie toegang tot boeke en rekords van die ondernemer kan verkry nie. In so ’n geval, word die 21-werksdaetydperk op hou gesit vanaf die datum wat die versoek tot toegang aan die ondernemer gestuur is tot die datum wat die ondernemer toegang verleen tot sodanige boeke en rekords. Dieselfde sal van toepassing wees tot ’n verifikasie proses waar ’n ondernemer nie die ondersteunende dokumente, soos versoek die SAID, beskikbaar stel nie.
Die 21-werksdaetydperk sal herbereken word onder die volgende omstandighede:
- waar die BTW-opgawe foutief is;
- waar inligting onder SARS se aandag gekom het ten opsigte van die blootleggings wat op die BTW-opgawe gemaak is;
- waar bankbesonderhede foutief is (welke of dit die ondernemer of ’n derdeparty bankrekening is);
- verteenwoordigende belastingbetaler van die ondernemer is nie aangestel nie, of bankrekening is nie voorsien nie; of
- belastingverpligtinge, ten opsigte van opgawes, is nie nagekom nie.
Die bogenoemde is dus verdere vereistes waaraan ondernemers moet voldoen.
Dit moet nie uit die oog verloor word dat indien ’n ondernemer uitstaande skuld het, sal die BTW-terugbetaling verreken word teen sodanige skuld en enige balans sal aan die ondernemer betaalbaar wees. Die voornoemde sal blyk uit die BTW-rekeningstaat van die ondernemer.
Indien die ondernemer nie voldoen aan enige van die bogenogenoemde vereistes nie, is die SAID geregtig om die terugbetaling te weier. Dit is dus noodsaaklik dat n ondernemer se belastingsake opdatum en korrek moet wees om enige weiering van terugbetaling te stuit.
Die Wet op Belastingadministrasie, 28 van 2011, soos gewysig, bied egter aan ondernemers regte. In eenvoud, kan die SAID in kennis gestel word van voornemende litigasie. Hierdie kennisgewing word op die voorgeskrewe wyse beteken en onder andere neem die SAID se regsafdeling kennis van die betekende kennisgewing. Die SAID word 10 werksdae voorsien, soos voorgeskryf, om die aangeleentheid aan te spreek, te finaliseer en om alle terugbetaalbare BTW aan die ondernemer te betaal, insluitend rente waar van toepassing is, by gebreke litigasie sal afskop.
Ons het ’n regsfirma genader wat spesialiseer in die vordering van ondernemers se BTW-eise, welke ons in kennis gestel het dat hulle nog nie genoodsaak was om die gange van die howe te nader nie. Hulle is dus suksesvol met 100% van hul kliente se eise in die kennisgewingfase. Die regsfirma is van voorneme om boere by te staan met hul eise en om opleiding te gee aan ons lesers om doeltreffend hulle BTW-eise in te dien sodat enige vertragings beperk of self uit die weg geruim kan word. Indien die regsfirma se bystand verlang word, kan u gerus TLU SA skakel om die besonderhede te bekom.
Aangesien die finansiële gesondheid, asook die kontantvloei-uitdagings wat veroorsaak word tot groot gevolge kan lei, is ons van mening dat ons lesers wat sukkel met BTW-eise sal baat om die verpligtinge op ondernemers asook die BTW-eis proses onder die knie te kry. Sodra die BTW-ondernemers se belasting in orde is, is die ondernemers binne hul regte om hul regte teen die SAID af te dwing sonder vrees of huiwer.
Image by rawpixel.com on Freepik