TLU SA se Nasionale Waterkomitee het onlangs opdrag ontvang om met ander landbou-organisasies en -belanghebbendes in gesprek te tree oor watersake. Nie net in terme van landbouwater nie, maar ook oor ander kwessies soos die beskikbaarheid van skoon drinkwater, watervermorsing, waterkwaliteit en so meer.
Op 7 Julie 2020 het die eerste verkennende gesprek hieroor plaasgevind tussen AgriSA, AFASA, AGBIZ, SAAI en TLU SA. NAFU het ‘n uitnodiging ontvang, maar het nie opgedaag nie. Die uitvoerende hoof van SAAFWUA (South African Assiciation for Water User Associations) het die geleentheid ook bygewoon.
Die verkennende gesprek het in goeie gees afgeloop en daar is ooreengekom om voor die einde van 2020 weer ‘n vergadering te belê. Sake van gemeenskaplike belang sal dan geïdentifiseer word en werkwyses om aandag aan bv waterbesoedeling te gee, sal uitgewerk word.
Die rol en funksie van SAAFWUA is ook aan die vergadering voorgehou. Dit het die vraag laat ontstaan of TLU SA ‘n memorandum van ooreenkoms (MVO) met SAAFWUA moet aangaan. SAAFWUA is gemoeid met die stigting van Watergebruikverenigings, wat volgens die Nasionale Waterwet, Wet 36 van 1998, gestig moet word. Bestaande besproeiingsrade moet ook omskakel na Watergebruikverenigings. Dit sal tot ons voordeel wees om met SAAFWUA in ooreenkoms te gaan, ook ter wille van ander watersake.
Die komitee is besig om ‘n voorlegging vir die UK voor te berei waarin die voordele van samewerking uiteen gesit sal word. Die konsep-MVO is beskikbaar by Drickus Botha (082 774 9287) vir belangstellendes.
Intussen wag TLU SA nog op terugvoer van die minister in verband met die dispuut met die departement. Daar is op die oomblik baie verwikkelinge binne die departement van waterwese en sanitasie aan die gang, en ons vertrou dat dit vir landbouers ten goede sal wees.